Entertainment

Die Broers kom kuier op die Bult

AMANDELBULT – Wat kan nou beter wees as om ‘n aand in die geselskap van die bekende “Broers” te kuier.

Die Rekreasie Klub (Die Boom) te Amandelbult het dit goed gedink om hierdie jaar op Saterdag 27 Februarie 2010 vanaf 09:00 tot 00:00 ‘n familiedag aan te bied waartydens dié bekende Snyman Broers hul lang verwagte verskyning gaan maak.

Christo, Cobus en Nic Snyman (verhoognaam Nic Stevens) is sedert die Beegees en Jonas Brothers, die enigste drie Broers wat as ‘n professionele groep saam sing. Benewens hul sangtalent is elkeen ook bedrewe musikante wat verskeie instrumente bespeel. Dié drie broers het vanaf ‘n betreklik jong ouderdom formele musiek en sang onderrig ontvang. Vandag is musiek hul enigste beroep.

Broers tree eksklusief op as ‘n konsert groep. Christo en Cobus tree egter ook op as ‘n duo en Nic Stevens as individu by danse, troues, korporatiewe- en privaat funksies, fondsinsamelings, feeste of enige ander geleentheid waar musiek ‘n faktor is.

Die treffer “Huistoe” het ‘n Tempo nominasie gekry as gewildste liedjie van die jaar en die Broers se dvd ” Broers tussen die sterre ” is genomineer vir die kategorie, beste dvd van die jaar. Gaan loer gerus by http://www.baobabbeat.co.za/index.php/artists/die-broers vir meer inligting aangaande hierdie sangtalent.

Gedurende die familiedag gaan uitstallers die geleentheid gegun word om ‘n winsgewende stalletjie te bedryf. Voorsiening word gemaak vir 30 staanplekke en die uitstallers word versoek om nie verversings, eet- en drinkgoed te verkoop nie. Die Rekreasie Klub maak voorsiening vir die “nat en droog” oor die lippe en ook vir ‘n hele dag se pret, plesier en hope vermaak vir die kleinspan.

Om deel te wees van hierdie fees word ingangsfooie van R60 per volwassene en R30 per kind gehef, waarna daar na hartelus in die vermaak gedeel kan word. Die dag word afgesluit met ‘n lewendige vertoning deur die Broers om 19:00. Die publiek word uitgenooi om hul dansskoene aan te trek en ‘n draai te kom maak op Amandelbult. Vir verdere navrae in die verband kan u gerus vir Jackie Nel gedurende werksure by tel 014 784 1065 skakel.