General

Atletiek in Thaba

Elana Greyling
 
THABAZIMBI – Laerskole Ellisras, Bosveld en Thabazimbi se atlete het Vrydag in ‘n vriendskaplike byeenkoms met mekaar kragte gemeet.

Die dreigende onweer het glad nie die entoesiasme gedemp nie en die gees het hooggeloop op die stampvol pawiljoene.

Die room van die drie skole se atlete het die kans waargeneem om hul vermoëns te meet in hierdie vriendskaplike byeenkoms, voordat die mededinging op kringvlak in alle erns begin.

Rekordhouers in eie reg, soos Marizel Pretorius van Laerskool Ellisras en Michelle van der Sandt van Laerskool Thabazimbi het die skare vermaak met hul talente. Michelle het tydens die Thabazimbi huissport ‘n reuse rekord opgestel in gewigstoot vir dogters o/12 deur die ou rekord te verbeter tot 9.85m. Sy het derde gekom tydens die byeenkoms. Die atlete wat onderskeidelik eerste en tweede gekom het, was saam met haar op provinsiale vlak verlede jaar, naamlik Juane Pistorius en Sunelle Maritz.

Thabazimbi neem hierdie week weer op vriendskaplike vlak deel teen laerskole van Koedoeskop, Platina, Van Wykskraal en Dwaalboom. Die kring-byeenkomste begin oor die naweek in alle erns.