Veediewe laai 21 speenkalwers
NORTHAM – Die nuwejaar het vir Me Marthie Schoeman van die plaas Grootkuil tussen Northam en Swartklip met ‘n allemintige verlies begin.
`n Onaangename beeld het me Schoeman in die gesig gestaar, toe hul op 16 Januarie op die plaas aankom. Veediewe het in die tydperk vanaf 6 tot 16 Januarie 21 van me Schoeman se Santa-/ Simmentaler – Brahaman speenkalwer kruisings met ‘n vragmotor opgelaai. Drie speenkalwers is dood langs die kraal aangetref terwyl koeie gestaan en bulk het vir hul kalwers. Volgens die spore in die kraal, moes die beeste mekaar beseer en vertrap het as gevolg van die vinnige opjaag van die beeste op die veediewe se vragmotor. Vir me Schoeman is die verlies van 24 speenkalwers op een dag nie iets wat enige boer sy mede boer toewens nie.
Volgens die getalle van die beeste op die plaas, is een koei ook vermis en word daar aangeneem dat sy saam met haar kalf gelaai is. Die koei se brandmerk is BLE. Die kalwers se linkerore is in die vorm van `n swaelstert geknipmerk. “`n Mens pas jou diere so lank op tot hul gekalf het, deur die hitte, moeilike tye as dit droog en warm is, tot die kalwers uiteindelik verkoop kan word, en nou dit!” sê me Schoeman wat geken word op veilings te Northam vir haar kwaliteit diere.
Die verlies van die speenkalwers is na beraming sowat R125 000. ‘n Beroep word gedoen op die gemeenskap om enige inligting aan die Veediefstaleenheid deur te gee. Enigiets wat moontlik verdag voorgekom het gedurende die afgelope tyd kan tot hulp wees tot die opsporing van die vee. `n Beloning word deur me Schoeman aangebied vir inligting wat tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van `n persoon of persone kan lei. Inspekteur KP van Dyk van die Veediefstaleenheid kan geskakel word by 078 251 0860.