Koop reg in 2010, sê RealNet-hoof

Betree die eiendomsleer, maar moenie oorgretig wees nie.

Dit is die raad van Tjaart van der Walt, uitvoerende hoof van die RealNet-eiendomsgroep. “Hoewel verbruikersvertroue nou weer na vore tree en die eiendomsmark ‘n hupstoot gee, gaan volkome ekonomiese herstel ‘n rukkie neem,” sê hy, “en ons dink nie verbruikers behoort in 2010 waaghalsige beleggings te maak nie.

“Dit is wel ‘n goeie geleentheid – in terme van prys en bekostigbaarheid – om ‘n huis te koop, maar dit is beslis nie tyd om buitensporige groot of luukse eiendom te koop nie.”

Hy raai kopers aan om ‘n konserwatiewe begroting op te stel en seker te maak dat hulle steeds verbandbetalings sal kan bekostig indien rentekoerse met ‘n paar persentasiepunte styg en hulle inkomste vir die res van die jaar konstant bly.

“Sulke beplanning gee kopers gemoedsrus en stel hulle in staat om hulle nuwe huise te geniet eerder as om hulle oor hulle geldsake te bekommer – en straks te begin dink die eiendom is ‘n meulsteen om hulle nek of ‘n swak kopie. Behoorlike vooraf beplanning sal dit ook makliker maak om ‘n lening te bekom.”

Van der Walt sê die tendens om eenvoudiger en meer beskeie te leef het die afgelope jaar sterk na vore getree. Dit het onder meer daartoe gelei dat verbruikers besteding aan motors, meubels, energie en brandstof, uiteet en selfs kosaankope beperk het.

“En ons glo dat dié konserwatiewe benadering ook ten opsigte van huistransaksies gevolg behoort te word. Hoewel huisbesit een van die beste maniere is om welvaart te skep moet verbuikers onthou dat welvaart langsaam gebou word – en dat daar beter groeipotensiaal is as jy nie jou rieme so dun sny dat jy sukkel om jou maandelikse betalings by te bring nie.

“As jy byvoorbeeld ‘n bietjie los kontant het en dit benut om jou verband vinniger af te betaal, sal jy vinniger ekwiteit in die eiendom skep as wanneer jy bloot op ‘n styging in eiendomspryse staatmaak om die waarde van jou eiendom te laat groei.”

Uitgereik deur RealNet Holdings