Business

Inskryftyd min vir vroue-entrepreneurs in landbou

Minstens R65 000 is op die spel vir vanjaar se top vroue-entrepreneur in die landbou. Maar aanspraakmakers sal vinnig hul inskrywings gereed moet kry – die sluitingsdatum is die einde van dié maand (31 Januarie).

Dié prys word deur Sanlam, in samewerking met Landbouweekblad, op die spel geplaas om erkenning te gee aan vroue-entrepreneurs wat hulle met hul innoverende sakebedrywighede op die platteland onderskei en deur bemagtiging in hul omgewings ‘n verskil te weeg bring.

Volgens Jan Steenkamp, uitvoerende hoof van Sanlam Cobalt-oplossings vir Besigheidseienaars, is tipiese entrepreneurs wat inskryf (of ingeskryf kan word) vroue wat ’n onbenutte geleentheid raakgesien het en dit gebruik het om lewensvatbare, volhoubare ondernemings op die platteland te skep.

“Dié vroue se entrepreneurskap – en dit wat hulle bereik het – moet kan dien as inspirasie vir ander vroue in soortgelyke omstandighede om iets van dié omvang en dieselfde trefkrag te doen,” sê hy.

Die wenner vir 2008/9 was Annalene du Toit van die plaas Kloovenburg buite Riebeeck-Kasteel in die Wes-Kaap wat onder meer ‘n imponerende voedselreeks en skoonheidsprodukte na Holland, Duitsland en Mauritius uitvoer.

Volle besonderhede oor die kompetisie en ‘n inskrywingsvorm verskyn op die webwerwe van Sanlam en Landbouweekblad (bv www.sanlam.co.za, klik op Meer, dan Borgskappe en Ander). Of bel Erna Wetzel by 021-947-4506 of stuur ‘n e-pos aan haar by agri@sanlam.co.za.