‘Groen’ hoef nie duur te wees nie
Omgewingsvriendelike binnehuise versiering hoef nie duur te wees nie – daar is talle maniere om die ‘groen’ paadjie te loop, al is jou begroting beperk.
Dit is die mening van Berry Everitt, bestuurshoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. Hy sê dis ‘n blink plan om jou bestaande besittings onder oë te neem en te besluit of jy dit beter kan benut as jou beursie dun is. “Besluit watter meubels en toebehore moontlik ‘n gedaanteverwisseling kan ondergaan voordat jy die winkels invaar.
“Daar is ook talle idees op die internet om meubels en ander artikels uit alledaagse materiaal wat andersins op die ashoop sou beland, te skep en so kan jy gebruik van nuwe hout, lym en verf beperk en boonop die druk op jou plaaslike stortingsterrein verlig.”
‘n Nuwe laag verf is ook ‘n goeie plan aangesien dit een van die mees kostedoeltreffende maniere is om jou huis te verfraai en omgewingsvriendelike verf, onderlaag en seëlmiddels is nou wyd beskikbaar. “Harlequin Paints, BreatheCoat en ProNature is drie Suid-Afrikaanse maatskappye wat nie-toksiese verf en muurbedekkings vervaardig terwyl Aqua Coat ook ‘n hele reeks omgewingsvriendelike vernis, metaalgrondverf, waterdigting, bindverf, vloerbedekkings, steenvernis, kraakvullers en swembadhars vervaardig.”
Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat jy kieskeurig behoort te wees indien jy wel iets vir jou opknappingsprojek aankoop. “As jy nuwe gordyne, vloerbedekkings of meubels moet koop, kan jy steeds sorg dat jou aankope omgewingsvriendelik is. Koop byvoorbeeld gordyne wat van natuurlike vesel gemaak is en kies ligte kleure wat sal help om jou huis in die somer koel te hou. Voerings sal weer help om jou huis in die winter warm te hou.
“Wat vloerbedekkings betref kan die nuwe gelamineerde houtvloere kostedoeltreffend wees. Dit is baie ‘groener’ as volvloermatte, wat nie net formaldehied vrystel nie, maar ook sowat elke sewe jaar vervang moet word.”
Laastens, sê hy, probeer om vrygewig te wees. “Skenk enige meubels, toebehore of snuitserye wat jy vervang aan ‘n welsynsorganisasie.
Sommige instansies sal selfs stukkende items aanvaar en dit herstel om self te benut of te verkoop vir broodnodige fondse. So kan jy ander mense help – en ook druk op stortingsterreine help verlig.”
Uitgereik deur Chas Everitt International.
Besoek www.everitt.co.za