‘Tyd nou gunstig om huislenings te verkry’

Daar is sterk aanduidings dat die ekonomiese noodmaatreëls van verlede jaar begin vrugte afwerp.
 
“Nogtans is daar steeds ‘n groot mate van ekonomiese omsigtigheid,” sê Martin Schultheiss, uitvoerende hoof van Harcourts Afrika, “en ekonome verskil oor die volhoubaarheid van die ekonomiese herstel en die vooruitsigte vir groei in 2010.
 
“En dis natuurlik goeie nuus vir huiskopers en eiendomsbeleggers aangesien rentekoerse waarskynlik laag gehou gaan word solank dié onsekerheid voortduur – en laer rentekoerse beteken dis makliker om nuwe eiendom te koop en makliker om lenings te bekom.
 
“Wanneer die wêreldekonomie wel sterker groei begin toon sal banke heel waarskynlik rentekoerse verhoog om inflasie hok te slaan, wat natuurlik die heersende koopgeleenthede sal laat vervaag – en verbruikers se kanse sal verminder om voordeel te behaal uit die verwagte 25% tot 30% groei in eiendomswaardes oor die volgende drie jaar.”
 
Wat die eiendomsmark self betref, voorsien Schultheiss die volgende vir 2010:
 
* Rentekoerse is nou op die laagste vlak in 28 jaar en dis onwaarskynlik dat dit verder sal daal. Na alle waarskynlikheid sal koerse eerder aan die einde van die jaar begin styg. Die volgende paar maande bied dus ‘n gulde geleentheid om lenings te bekom en mag ook ‘n goeie tyd wees vir eienaars met bestaande verbande om hulle rentekoers vas te pen.
 
* Bekostigbaarheid van eiendom behoort vanjaar te verbeter indien verbruikers daarmee volhou om skuldvlakke te verlaag en salarisse in ooreenstemming met sterker ekonomiese groei begin styg.
 
* Bevolkingsgroei, ekonomiese bemagtiging en toenemende welvaart sal ook vraag na behuising in gevestigde residensiële markte onder eienaar-kopers aanmoedig. Streng maatreëls vir die toestaan van huislenings sal egter verseker dat die huurmark bestendig bly, en dit sal belegging aanmoedig.
 
* Nuwe markte vir wooneiendom sal steeds deur myne en nywerheidsondernemings, toerisme, en infrastruktuur-ontwikkeling gevestig word met aktiwiteit minder gekonsentreerd in die hoofsentra. ‘n Mate van spekulasie in dié nuwe markte kan verwag word.
 
* Sekuriteit en persoonlike veiligheid sal steeds groot oorwegings bly en ‘n toenemnde persentasie kopers sal waarskynlik huise in omheinde gebiede en landgoedere verkies. Dit sal die noodsaaklikheid van goeie wetgewing beklemtoon om deeltitel-gemeenskappe te reguleer sodat enige dispute vinnig en goedkoop besleg kan word.
 
* Kopers sowel as verkopers gaan toenemend verwag dat agente uitstekende diens moet lewer en die eiendomsbedryf sal groot beleggings in meer en beter opleiding, sowel as gebruikervriendelike webtuistes, moet maak.
 
* Terselfdertyd sal transformasie baie aandag geniet en die bedryf sal meer verteenwoordigend word met toenemende getalle swart agente in alle markte pleks van slegs die voormalige townships.
 
UITGEREIK DEUR HARCOURTS AFRIKA