General

Outydse Kersete – Gevulde lamsboud

Geniet ‘n intieme Kersete saam met jou familie en vriende en bederf hulle met tradisionele gebraaide lamsboud.

Genoeg vir: 8

Bereidingstyd: 45 minute

Gaarmaaktyd: 2 uur

Oondtemperatuur: 160 °C

30 ml olyfolie
100 g swoerdlose strepiespek, gekap
1 ui, gekap
1 selderystingel, gekap
2 knoffelhuisies, gepers
100 g spinasie, skoongemaak, gesny en gestoom
125 g varkworsies
1 sny witbrood, korsies afgesny
50 g feta, gekrummel
30 ml vars gekapte pietersielie
30 ml vars gekapte kruisementblare
5 ml vars gekapte roosmaryn (2 ml gedroog)
10 ml suurlemoenskil, gerasper
1 groot eier, liggies geklop
2-2,5 kg lamsboud, ontbeen en oopgevlek

Verhit olie in ‘n kastrol en voeg spek by. Braai oor matige hitte vir twee minute en voeg dan die ui, seldery en knoffel by. Braai nog twee minute en voeg die spinasie by. Sit ‘n deksel op en haal van die plaat af. Laat dit vir vyf minute stoom sonder om die deksel af te haal.

Druk die worsvleis uit die omhulsel uit. Week die brood in ‘n bietjie water, druk die oortollige water uit, en voeg die brood, kaas, kruie en suurlemoenskil by die worsvleis. Geur goed met sout en vars gemaalde swartpeper.

Roer die worsmengsel en die eier by die afgekoelde spinasiemengsel in. Meng goed.

Sprei die lamsboud op ‘n kerfplank oop en slaan die vleis tot dit oral ewe dik is. Smeer die vulsel oor die vleis, rol dit op en bind dit stewig vas met tou.

Sit die vleis met die naat aan die onderkant op ‘n rak in ‘n roosterpan. Braai in voorverhitte oond vir sowat twee uur. Laat staan 15 minute voordat jy die tou afhaal en die vleis sny.

Probeer dié resep vir ‘n lekker sous saam met die lamsboud:
Kap een ui, een wortel en een selderystingel. Strooi dit onder die rak in die roosterpan en voeg twee takkies vars kruisement en 200 ml biefaftreksel by. Oondrooster die lam volgens die resep hierbo. Skep die vloeistof en groente in ‘n beker ná die gaarmaaktyd verby is. Laat dit ‘n paar minute staan en skep dan die vet af wat na die oppervlak styg. Gooi die aftreksel deur ‘n sif. Verhit 50 ml botter in ‘n kastrol en voeg 45 ml meel by. Roer tot bruin. Voeg gesifte vloeistof bietjies-bietjies op ‘n slag by en roer heeltyd sodat dit nie klonte vorm nie. Voeg 100 ml droë wit wyn en 15 ml kruisementjellie by sodra al die aftreksel bygevoeg is. Roer tot verdik. Sit saam met skywe lamsvleis voor.

Kookwenk
Geroosterde knoffel het ‘n matige soet geur met ‘n bietjie byt! Jy kan dit ook saam met die vleis in die oond rooster en met skywe vleis voorsit. Of smeer dit op melbaroosterbrood en jy het ‘n heerlike voorgereg.

Bron: www.idees.co.za