VLU Thabazimbi sluit jaar af

THABAZIMBI – Die laaste vergadering van die jaar is op 12 November gehou waartydens die nuwe bestuur van VLU Thabazimbi gekies is.

Die nuwe bestuur sien as volg daarna uit: Pam Botha (voorsitter), Hannelie Botha (sekretaresse), Zalita Fourie (tesourier), Liz van Tonder (skakelbeampte) en Janie Breedt en Cecilia Dearlove (beoordelaarsameroepsters).

Daar is met leedwese verneem van die afsterwe van Johanna Grimes van die Tambotie Versorgingseenheid vir verswakte bejaardes. Sy is op 10 November op die rype ouderdom van 91 jaar oorlede. Johanna was een van die stigterslede van die tak en later ook haar plek as voorsitter volgestaan. Sy sal onthou word vir haar liefdevolle en saggeaarde persoonlikheid.

Die tak se afsluitingsfunksie is in die pragtige tuin van Marietjie van der Merwe gehou. Die dames het by die swembad gekuier en by ‘n kleurvolle gedekte tafel hul middagete genuttig.

Die lede wil aan Die Kwêvoël redaksie en al die lesers ‘n geseënde Christusfees toewens. Daar word na ‘n baie bedrywige 2010 uitgesien.