General

Skoonheidsterapeute bederf bejaardes

THABAZIMBI – Bejaardes bo 80 jaar is die afgelope week bederf met vroeë kersgeskenke toe terapeute van Sorizty skoonheidsalon hulle voete en hande versorg het.

Baie van die NG Kerk se Aliza-Aviela Groep (vir bejaardes oor 80 jaar) het Dinsdag 1 Desember by die kerksaal opgedaag om gratis pedikuurs en manikuurs te ontvang van Sorizty se drie skoonheidsterapeute Maritza Groenewald, Sorika van Zyl en Karin Bothma.

Vir ‘n halfuur is elke bejaarde man en vrou wat by die kerksaal opgedaag het bederf toe naels gesny, gevyl en geverf is. Hulle is ook met tee, sap en eetgoed bederf.

Die groot bederf, wat deur Sorika, eienares van Sorizty geïnisieer is, is met groot waardering begroet. Hulle “voete voel so lekker” het ‘n hele paar gesê, want dis so moeilik om altyd by die voete uit te kom.

Sorizty bied hand- en voetbehandelings (knip, vyl en verf van naels) aan vir bejaardes teen R20 elk by die salon.
Dr Tinus Benade van die NG Kerk het Woensdagoggend 2 Desember nagmaal bedien aan inwoners van Tambotie Versorgingsoord.