Sport

Pro Bow Boogklub, Thabazimbi sluit jaar af

THABAZIMBI – Pro Bow Boogklub, Thabazimbi het van Vrydag  27 November 2009 tot Sondag 29 November 2009 op die plaas van Hein en Cornelia Holtzhausen uitgekamp as deel van hul jaarafsluiting.

Die kamp is Vrydagmiddag deur klublede en hul gesinne opgeslaan en voorbereidings vir die volgende dag se boogskiet kompetisie gefinaliseer. Op Saterdagoggend het die gewerskaf om gereed te maak vir die dag se verrigtinge reeds vroegdag begin.  Dié, wat nie kans gesien het vir die son en veld nie, het heerlik onder die koeltebome by die “kamp” gekuier, en die ander dapperes het die uitdaging saam met die skuts in die veld aangedurf. Later die middag, nadat daar afgekoel is in die plaasdam en die spitbraai en potjiekos aan die gang gekry is,  het die kleiduifskiet vir verdere vermaak gesorg. Nadat almal knuppeldik geëet is aan die smaaklike spyse wat voorgesit is, is daar kersboom gehou vir die kinders, en het die prysuitdeling plaasgevind.

Die voorsitter, Hein Holtzhausen het ‘n oorsig gegee van wat gedurende die jaar plaasgevind het, en erkenning is aan die uitsonderlike prestasies wat deur die klublede behaal is gee, veral met die SABA (South African Bow Hunters Assosiation) Gauteng kompetisies waaraan die lede deelgeneem het gedurende die jaar. Die span kompetisie, asook die “Senior Male – Broadhead”,  “Senior Female – Broadhead”, en  “Junior Male – Broadhead” is deur lede van die klub gewen, met ‘n tweede plek in “Cub Female – Fieldpoint”.

Die dag se skietkampioen was Francois Botha met ‘n persentasie van 94%. Henk Engelbrecht is aangewys as 2009 se Klub Kampioen, asook die “groot” voël kampioen. Hierdie kampioen is die lid wat gedurende die jaar, na elke Donderdagaand se skietkompetisie, die meeste keer ‘n voël, meestal die renostervoëltjie op ‘n seekoei se rug, op 30 jaarts raakskiet. Antoinette Hermann is aangewys as die vroueskut vir 2009, Quintin Jansen van Vuuren as die seuns juniorskut, klein Abraham Fourie as die seuns “Cub”wenner, en Niané Engelbrecht as die dogters “Cub” wenner vir 2009.

Ewald Botha het die trofee ontvang vir die mees toegewyde lid van die klub en verdien ‘n harde “drie hoera’s” by die ander lede. Volgens die lede is Ewald, oftewel, oom Ewie voorwaar ‘n voorbeeld vir elkeen.

Sondagoggend is daar afgesluit met ‘n bosveld ontbyt, voorberei deur die manne en wat verseker in geen restaurant beskikbaar is nie, voordat daar traag teruggekeer is huis toe.

Die klub se opregte dank gaan aan Hein en Cornelia Holtzhausen wat hul plaas beskikbaar gestel het vir ‘n onvergeetlike naweek, asook elkeen wat ‘n aandeel aan die besonderse naweek gehad het. Pro Bow Boogklub, bedank ook graag  almal en al die instansies vir hul ondersteuning en goedhartigheid gedurende 2009, en wil hul verseker dat die lede dit opreg waardeer. Ook wil die lede hul gesinne bedank vir hul geduld, ondersteuning en liefde gedurende die afgelope jaar se kompetisies, asook hul mede span- en klub lede vir hul onderskraging en aansporing. Namens Hein, die res van die komitee en al die lede van Pro Bow Boogklub, Thabazimbi, ‘n Geseënde Christus fees en ‘n wonderlike vervulde 2010 aan u elkeen.

Pro Bow Boogklub sien uit na 2010 en al sy uitdagings. Indien u meer inligting verlang, kontak gerus vir Hein by 0837013039, Henk by 0837073691 of Hannetjie by 0736749956.