General

Klapperskietery verbode

THABAZIMBI – Die polisie gaan vanjaar ernstig optree teen die skiet van klappers tydens die feesseisoen. Volgens nasionale wetgewing mag geen persoon in residensiële gebiede vuurwerke en klappers afvuur nie. In Thabazimbi geld dit vir alle residensiële gebiede in Thabazimbi-dorp, Rooiberg, Northam en Leeupoort.

Die polisie het gesê dat daar vanjaar in erns aandag gegee sal word oor klagtes van klapperskietery. Die gebruik van vuurwerke sal wel toegelaat word as daar deur die regte kanale te werk gegaan word en aansoek gedoen word by die Beskermingsdienste Kantoor van die Munisipaliteit. Die persoon wat die aansoeke moet hanteer is Johnny Motaung.
Indien die aansoek goedgekeur word, sal daar ‘n spesifieke plek en tyd, waar vuurwerke afgevuur word, bekend gemaak word. Dit sal ook net geskied onder die toesig van volwassenes en dit sal goed gemoniteer word.

Die verkoop van vuurwerke mag slegs deur gelisensieerde handelaars geskied. Ook op hierdie gebied gaan die polisie ernstig optree. Slegs handelaars wat aan die wetlike vereistes voldoen mag vuurwerke verkoop. Diegene wat onwettig verkoop en uitgevang word, sal gearresteer word, verseker die polisie.  Vuurwerke mag nie verkoop word aan kinders onder 16 jaar nie.

Volgens dierekenners het klapperskietery en vuurwerke ‘n ernstige effek op diere. Aangesien hul gehoor sensitief is, jaag die skiet van klappers hul stresvlakke op , maak hulle senuagtig, bang en veroorsaak dat hulle weghardloop.

Baie diere-eienaars probeer hierdie slegte ondervinding vir hul diere verbeter deur hulle kalmeermiddels in te gee, of selfs hulle vir die nag in ‘n veilige plek te laat opneem.

Hennie Pauw