Kersboodskap
Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het in sy Kersboodskap aan georganiseerde landbou in Limpopo, gesê dat die afgelope jaar, soos elke jaar vantevore, hoogte en laagte punte opgelewer het. Die leuse “Ons is hier om te boer” het nie verander nie en word met toenemende beslistheid uitgeleef en beskerm.
Voedselsekuriteit is vir hom ‘n belangrike kwessie. “Ons snel na die einde van 2009. Die afgelope jaar het sy hoogte- en laagtepunte gehad vir ons as landbouers. Aan die positiewe kant het die regering uiteindelik besef die voorspoed van Suid-Afrika is in die hande van die kommersiële boere. As kommersiële boere se vermoë om voedselsekuriteit te waarborg, nie opgepas word nie, is die land tot hongersnood gedoem en die plattelandse ekonomie en kultuur sal in duie stort. Vir die eerste keer in `n lang tyd word die landbouer nie as `n tweede klas burger van Suid-Afrika beskou nie.”
Aan die negatiewe kant, word die volhoubaarheid van landbou bedreig deur stygende insetkoste en dalende markpryse, wat winsgewendheid en boere se voortbestaan bedreig. Die inherente krag van die Suid-Afrikaanse landbouer, het homself bewys oor jare met dieselfde uitdagings as vandag. Hierdie uitdagings het hom ontwikkel tot `n formidabele persoon wat in Afrika kan oorleef. Viljoen sê: “Met ons oë op ons Skepper en die hand aan die ploeg, sal hierdie struikelblokke ook nog `n uitdaging wees wat oorkom moet word.”
Hy waarsku dat in 2010 landbouers en georganiseerde landbou sal moet onthou, veiligheid kan nie gedelegeer word nie. Daar moet voorkomend opgetree word aangesien kriminele nie wetsgehoorsame, hardwerkende burgers ‘n rustyd gun nie. Kerstyd is ‘n tyd van rus en vrede, maar net solank georganiseerde landbou dit afdwing. Kriminele sien Kerstyd as ‘n tyd om te roof en te moor en te steel. “Laat ons so optree dat hulle misluk in hulle duiwelswerk,” sê hy.
Sy kerswens is: “Ons nader weereens die vakansie en Kerstyd, `n belangrike fase in ons lewens elke jaar. Dit gee ons ook die geleentheid om terug te kyk en te besin of ons die opdrag soos in die Woord in Genesis aan ons opgedra is, en of ons dit nagekom het as landbouers. Het ons Sy skepping met die nodige sorg bewerk en benut, en dit wat ons nalaat, in `n beter toestand agter gelaat het as wat ons ontvang het? Ek vertrou en dank die Skepper vir dit wat Hy aan ons toevertrou het, en vra dan ook vir die nodige wysheid dat ons positief op hierdie opdrag kan antwoord die komende jaar, sonder voorbehoud. My gebed is dat elke landbouer en sy/haar gesin, Kerstyd `n werklike Christusfees sal wees en 2010 `n positiewe ervaring vir elkeen sal wees.”
Jan Viljoen, Voorsitter TLU SA Noord.