Business

Kersboodskap van mnr Francois van den Berg – president Agri Limpopo

“Die jaar is verby soos elke jaar in die verlede. Was dit nie ‘n wonderlike voorreg om nog ‘n jaar saam met mense in die landbousektor deur te bring nie!

Nou wat was nou anders hierdie jaar teenoor ander jare? Ons kan redeneer dat die druk toegeneem het op boere om te oorleef, veral met die verhoging van insetkoste, grondeise, onverantwoordelike uitlatings deur sekere regeringslui, dreigemente van nasionalisering, waterbesoedeling, ensovoorts. Ja, dit is so, maar ander dinge het ook gebeur.

Boere het meer begin saamwerk. Landbou-organisasies het gesamentlik hulle stemme begin dik maak. Ons het begin opstaan vir ons taal, ons voortbestaan en daarmee saam ons geloof, wat die Rots is waarop alles gebou is.

Ons is betrokke by georganiseerde landbou en moet betrokke bly en ander rondom ons motiveer om dieselfde te doen. Want sonder landbou organisasies soos Agri SA en sy affiliasies, gaan landbou in hierdie mooi land van ons, dit nie oorleef nie.

Mag al u drome waar word.

Dis my wens dat u almal ‘n baie geseënde Kersfees sal ervaar en dat die nuwe jaar voorspoedig sal wees.”