Gholfklub sluit af met slagspel
THABAZIMBI – Ja, daar lê 2009 op sy rug en gee die laaste stuiptrekkings. So het die amptelike bedrywighede van die gholfklub ook verlede Saterdag met die laaste Slagspel kompetisie afgesluit. Nita Barnard (70) is die wenner met drie ander op 71, by name Johan Barnard, Billy Pring en Eugene Oberholzer. Nita wen ook die laaste gelukkige lede-trekking van die jaar.
Vanaf volgende jaar gaan die lede-trekking steeds voort maar met nuwe reëls. Die bedrag word van R300 tot R500 verhoog. Die lid wie se naam getrek word moet egter teenwoordig wees om te wen. As die lid nie teenwoordig is nie, verbeur hy die prys en gaan die trekking aan totdat ‘n teenwoordige lid se nommer getrek is. Die oorspronklike gedagte van die gelukkige trekking was aanvanklik om lede by die kompetisie te kry en die nuwe formaat gaan dalk in die doel slaag. Om deel te wees van die trekking moet ‘n lid elke keer wanneer hy/sy nege putjies speel net die kaartjie invul en in die kassie wat daarvoor teen die muur op is, gooi. Dit kos niks ekstra nie.
Daar kan nog steeds die hele Desember gholf gespeel word, spelers moet maar net hulle eie reëlings tref. Die Woensdag Pick n Pay Sonsakker met die JoLee trekking gaan ook nog aan. Die klub sal egter met Kersdag, Vrydag en Saterdag vir alle spel gesluit wees.
Die afgelope jaar het sy hoogte en laagte punte gehad. Daar is verskeie kere by die klubhuis deur gewetenlose skurke ingebreek wat onnodige uitgawes tot gevolg gehad het. Nogtans is daar baie verbeteringe in die klubhuis en op die baan aangebring wat getuig van die komitee se harde werk. Nieteenstaande die baanmeester, Eddie Williams, se siekte het die baan in ‘n puik toestand gebly te danke aan Johan Barnard se toewyding en die span werkers. Eddie is dan ook weer terug en op sy pos. Johan het ook met swoeg en olie-hande die toerusting aan die gang gehou. Irma en haar personeel het almal met ‘n glimlag gelukkig gehou.
‘n Paar van die lede het ongelukkig ook terugslae gehad. Hans Human het ‘n tweede heupvervanging gehad, Pietie Terblanche het ‘n rug operasie gehad en Jakkie van der Wateren se skouer het ook onder die mes deurgeloop. Hoop hulle is almal volgende jaar weer op die baan.
Al die lede en hulle gesinne, werkers en ander belangstellendes word ‘n baie geseënde Kerstyd toegewens. Mag die vrede en wonder wat die tyd vir almal waar word. En maak van die nuwe jaar ‘n baie voorspoedige een, met die goeie geloof, regte besluite en so’n bietjie geluk (veral op gholfbaan).