Toyota stel nuwe elektriese voertuigkonsep bekend by Tokio-motorskou
Een van Toyota se sterre by vanjaar se Tokio-Motorskou was die FT-EV II, ‘n kompakte elektriese voertuig wat ontwerp is vir kortafstandritte. Die ontwerp en tegnologie is gemik op ‘n toekomstige gemeenskap waarin elektriese voertuie alledaags sal wees – een van ‘n verskeidenheid van vervoermiddels wat gebruikervereistes, tipe energie wat gebruik word en die plaaslike energie-infrastruktuur sal weerspieël.
Die FT-EV II is ‘n hoëgehaltekonsep wat ontwerp is vir ritte in die stad. Die bak is selfs meer kompak as dié van die Toyota iQ, maar daar is steeds ruimte vir vier insittendes.
Skakellose tegnologie beteken dat al die voertuigfunksies met ‘n stuurstok beheer kan word, insluitende die versneller, remme en die stuur. Deur die versneller- en die rempedaal te verwyder, is meer beenruimte in die motor geskep.
Wat die buite-ontwerp betref, is daar ‘n lae voorste kap en ‘n bykomende ruit onder die vlak van die voorruit vir ekstra sig vorentoe en die agterste ligsamestelle is deursigtige LED-eenhede. Vir toegang in knap parkeerruimtes spog die FT-EVII met elektriese skuifdeure aan weerskante.
Die topsnelheid is meer as 100 km/h en die motor het ‘n reikafstand van meer as 80km op ‘n vol gelaaide battery, wat meer as voldoende is vir die meeste stedelike ritte. Die rit is stil en gerieflik en die versnelling glad danksy die motorbeheerstelsel wat Toyota ontwikkel het.
Met afmetings as volg: Lengte 2,73m; breedte: 1,68m; hoogte: 1,49m en asafstand: 1,9m, sal jy beslis baie meer van hulle in die stad geparkeer kry as die normale sedan motors.