TOYOTA PRIUS SNOER ONGELOWIGE THOMASSE SE MONDE

Toyota se volle hibried vermorsel amptelike verbruiksyfers in FleetWorld MPG Marathon in Brittanje

Nou kan daar geen argument meer wees oor die Toyota Prius se petrolvrek-eienskappe nie! In ‘n pas afgelope besparingrit in Brittanje het Toyota afdoende bewys gelewer dat die nuwe volhibried Prius nie net sy amptelike brandstofverbruiksyfers gestand kan doen nie, maar selfs daarop kan verbeter.

Die uitslae van die FleetWorld MPG Marathon, Brittanje se voorste onafhanklike brandstofekonomietoets, toon dat die Prius net 3,36 liter/100 km gebruik. Dit is 16% beter as die amptelike gesamentlike siklus-syfer van 3,90 liter/100 km (4,1 liter/100 km in Suid-Afrika).

Hierdie besondere verbruiksyfer is behaal deur Andrew Andersz en Richard Seymour, wat die Prius bestuur het oor ‘n roete van 520 km bestaande uit ‘n verskeidenheid van paaie, soos dié waarop gewone motorryers elke dag hul motors bestuur.

Die uitslae van die marathon het sonder twyfel bewys dat die Prius spog met uitstekende brandstofverbruik op die oop pad sowel as in stedelike verkeer, waar dit net op elektriese krag kan loop.

Die nuwe Prius, wat pas bekend gestel is, is nie net besonder brandstofdoeltreffend nie, maar dit spog ook met die laagste CO2-emissies van enige gesinsmotor – net 89g/km (94g/km in Suid-Afrika).

Die nuwe Prius is kragtiger as sy voorganger danksy ‘n nuwe, uiters doeltreffende petrolenjin van 1,8 liter as deel van die Hybrid Synergy Drive-kragoorbringstelsel. Verbeterde lugdinamiese eienskappe speel ‘n sleutelrol in die Toyota se skoner en ekonomiese verrigting. Die lugsleursyfer van die nuwe model is ‘n skrale 0,25, die beste in sy klas.

Die Prius was nie die enigste Toyota wat op die MPG Marathon, wat op 30 September en 1 Oktober plaasgevind het, gepresteer het nie. Toyota iQ- en Yaris-modelle (nie beskikbaar in Suid-Afrika nie) het deelgeneem en in albei gevalle het hulle minder brandstof gebruik as hul amptelike verbruiksyfers.

Die eenliter-iQ het ‘n gemiddeld van 3,58 liter/100km aangeteken en die Yaris 1.4 D-4D-diesel 3,27 litres/100km. Albei hierdie motors is aansienlik kleiner as die Prius, wat net weer die unieke eienskappe van die wêreld se gewildste hibriedmotor beklemtoon.