General

Klimaatsveranderinge: Naas China gee SA grootste bydrae

Johannes Möller, president van Agri SA sê dat dié organisasie steun president Zuma se standpunte oor wat met die Kopenhagen klimaatsverandering-vergaderings bereik moet word, tewete dat ontwikkelde lande ‘n groter finansiële pakket moet bewillig wat daarop gemik is om die effek van klimaatsveranderinge op ontwikkelende lande te versag en aanpassings moontlik te maak. Hy is egter nie oortuig dat die regering genoegsame beleidsmaatreëls in plek het wat gerig is op voorkomende optrede in plaas van reaktiewe optrede nie. Dié siening van Agri SA is gemotiveer in ‘n voorlegging aan die Parlement se Portefeuljekomitee vir Water en Omgewingsake.

“Suid-Afrika is hoofsaaklik vir energie-opwekking van steenkool afhanklik.  Dié energie-opsie plaas Suid-Afrika naas China as die grootste koolstofprodusent per kapita in die wêreld. Alle aanduidings is dat Suid-Afrika eers teen 2015 ‘n omdraaistrategie met die ontwikkeling van skoner energie voorsien, terwyl die land reeds met erge besoedelingsprobleme van lug en water te kampe het. Dit verbaas my dat die regering nie op die hoogste vlak van beleidmaking daadwerklike besluite oor alternatiewe skoner energiebronne neem nie. Suid-Afrika is die nommer een uitvoerder van uraan in die wêreld wat ons in ‘n gunstige posisie plaas om die kernkrag-opsie vir energie-opwekking opnuut te oorweeg” sê Möller.

Agri SA het in sy voorlegging ondermeer daarop gewys dat die landbou se vermoë om by hernieubare energieprojekte in te skakel, nie genoegsaam ontwikkel word nie. Die landbou se vermoë om kweekhuisgasse in die produksieprosesse te beperk en op te neem is veel groter as die vrystelling daarvan. Praktiese skemas om die landbou vir koolstofkrediete te kompenseer behoort ook spoedig ontwikkel te word.

Agri SA het verder in sy voorlegging die gebrek aan ‘n oorhoofse energiebeleid uitgewys. ‘n Voorbeeld hiervan is dat ‘n instansie soos Eskom as die enigste grootmaat verkoper van elektrisiteit terselfdertyd toegelaat word om die aanvraagkant te beheer. Hierdie starre benadering het ‘n ongelyke speelveld vir alternatiewe deelnemers tot gevolg. Möller sê dat dit gebiedend noodsaaklik is vir die land om ‘n energiebeleid te ontwikkel wat die privaatsektor ook sal toelaat om op ‘n mededingende grondslag by energie-opwekking betrokke te raak. “Dit wil ook voorkom asof Eskom verantwoordelik is vir ‘n aantal energieverwante beleide wat in terme van elektrisiteitswetgewing eerder by die regering tuishoort”, het Möller ten slotte gesê.