Gemeenskapsprojek “Zip-it in ‘n Zimbi Blik” begin!

THABAZIMBI – Besighede, skole en die Munisipaliteit het hande gevat in ‘n groot poging om Thabazimbi op te ruim en ‘n opvoedingsveldtog van stapel te stuur waarin verskeie aspekte oor afvalhantering aangespreek sal word.

Die projek spring weg met ‘n “Zip-it in ‘n Zimbi Blik”-opruimaksie op Woensdag 9 Desember. Alle kinders is welkom om 08:00 bymekaar te kom by Thaba Park waar ‘n dag van pret (en ‘n bietjie werk) voorlê. Busse word beskikbaar gestel vir kinders van die myndorpe wat aan die projek wil deelneem.

T-hemde, wat deur Northam Platinum geborg word, sal uitgedeel word, asook handskoene en swart sakke, wat deur die Munisipaliteit verskaf sal word. Die kinders word hierna versprei deur 12 wyke waar hulle binne ‘n vasgestelde tydperk sal kyk watter groep die meeste rommel kan optel terwyl hulle terugbeweeg in die rigting van Thaba Park.

Die kinders wat die meeste vullis versamel, ontvang ‘n behoorlike beloning.

Na die opruimingswerk sal die kinders se pret begin. Daar sal ‘n vrugtefees aangebied word, asook speletjies.

Die Munisipaliteit het 100 dromme vir die projek voorsien wat moontlik teen Woensdag in verskillende kleure geverf sal wees wat herwinning van afval sal aanmoedig. So sal verskillende dromme, afhangend van elkeen se kleur, gebruik word as houer vir, byvoorbeeld, afvalglas, -papier en -plastiek.

Hierdie sal ‘n herwinningsaksie loods waar afvalitems van dieselfde soort na herwinningsaanleg geneem word waar dit behandel word sodat dit weer gebruik kan word, in plaas daarvan dat dit op ‘n stortingsterrein beland.

Daar is diegene wat meen dat hierdie projek moet veral na huishoudings uitgebrei word om dit ‘n sukses te maak. Heelwat van die skole het egter hul vaste ondernemings gegee om die projek ‘n sukses te help maak.

Die reëlingskomitee sê hulle doen ‘n beroep op almal om in massas op te ruk na hierdie pretdag. Die kinders moet ou klere aantrek en meedoen aan die “Zip-It in ‘n Zimbi Blik”-projek en daardeur wys dat hulle trots is op Thabazimbi.
Indien die dag ‘n sukses is, word daar beoog om soortgelyke dae in ander dele van die Thabazimbi-distrik te hou. Hoewel die skole nie asulks deelneem aan verrigtinge nie aangesien die onderwysers nog besig is met rapporte en verslae, onderskryf en ondersteun hulle dit ten volle en skoolhoofde by die reëlingsvergadering het te kenne gegee dat hulle briewe sal uitstuur na ouers en selfs onderwysers beskikbaar sal stel om tydens die dag te help. Van die skole het ook te kenne gegee dat die projek hulle in staat stel om die kinders praktiese ondervinding te gee van teorie wat in die klaskamer geleer word.

Dié skoonmaak-inisiatief is van stapel gestuur deur drie besigheidslui in Thabazimbi sowat vyf weke gelede. Estie Steenkamp (Sanlam), Steph Swanepoel (Numzaan) en Hanlie Richter (Explipro) het vir koffie bymekaargekom en die moontlikheid van ‘n skoonmaak-aksie bespreek. Die spoed waarteen ander instansies by hierdie inisiatief aangesluit het, moet ‘n indikasie wees van die behoefte wat inwoners van die omgewing het om te help verbeter en positiewe dinamika in werking te stel. Met ander woorde: eerder as om te kla hoe alles verval, klim self in en verbeter die omgewing.

In ‘n omsendbrief wat verlede week vrygestel is, sê diegene wat betrokke is by die “Zip-It in ‘n Zimbi Blik”-aksie dat “ons dorp en ons omgewing is ons trots en daarom moet ons almal as inwoners gemotiveer word om eienaarskap te neem oor dit wat ons eie is. Die Thabazimbi Stadsraad, alle sakeleiers, myngroepe en ook skole, wil daadwerklik optree en ons dorp opruim en skoon hou. Almal funksioneer beter in ‘n mooi, skoon en netjiese omgewing.”

Tydens die vergadering is die moontlikheid bespreek dat hierdie projek die begin van ‘n meer geïntegreerde poging sal wees om alle vullisprobleme te hanteer, insluitend dié van bouers, gastehuise, besighede en selfs tuinafval.

Aspekte soos vandalisme, vakansieprojekte vir kinders en grootskaalse afvalherwinning sal op ‘n later stadium hopelik deel uitmaak van die projek.

Van groot belang is dat dit nie slegs beskou sal word as ‘n opruimingsaksie nie, maar ook ‘n opvoedingsaksie wat ‘n houdingsverandering by Thabazimbiërs, oud en jonk, teweeg sal bring om die dorp skoon te hou. Daar moet wegbeweeg word van die houding dat die Munisipaliteit se werk is om die dorp skoon te hou.

Enige ouers of skole wat belangstel om deel te wees van die “Zip-It in ‘n Zimbi Blik”-projek op 9 Desember kan vir Estie Steenkamp skakel by 072 081 5532.

Hennie Pauw