Sport

Gekkedag afsluiting by gholfklub

THABAZIMBI – Die jaar se afsluitingsbyeenkoms, verlede Saterdag was toe ‘n egte Gekkedag.  Daar daag werklik ‘n Arabiese sheik Alibernie Bin Gous op, ‘n Skotse jongeling wat nie wil wys wat onder sy rokkie skuil nie en so’n baster Duitse boer. Daar was op ‘n stadium ‘n hele versameling eienaardige kreature in die klubhuis. Dan word almal verras met die aankondiging dat daar met ‘n volle stel gespeel word en nie meer met die tradisionele drie stokke nie. Maar dit is waaroor Gekkedag gaan. Die lekker van mede lede se kameraderie. Die lekker om op so’n heerlike dag te kon gholf speel.

Die vlaggies was op baie misleidende plekke geplaas en die gemengde formaat het baie pret verskaf. Die dag se wenners was die vierbal van Charlie Penzhorn, Eugene Oberholzer, Christof en Heinrich Penzhorn. Hulle 98 punte was net bysaak.

Die aand is al die trofeë wat deur die jaar gewen is weer uitgedeel asook die spesiale  toekennings. Die Kapteinsbeker word toegeken aan Billy Pring. Koos Prinsloo kry die Presidentsbeker en die Britz Ereswaard gaan na Ettiene le Roux. Die karakter van die jaar trofee gaan aan Nico van der Westhuizen.

Baie dankie aan almal wat nie net aan Saterdag se verrigtinge deelgeneem het nie, maar almal wat deur die jaar deel was van die klub se bedrywighede. Gholf bly maar ‘n baie spesiale spel en om dit op so’n mooi baan tussen sulke uitsonderlike mense te kan speel bly ‘n besondere voorreg.