Reën gee bosveld hupstoot
Die Bosveld het ‘n goeie hupstoot gekry met neerslae verlede week en oor die opvolgende naweek in die TLU Noordstreek. Hierdie neerslae het gewissel van 30mm op Alma tot 60mm op Koedoeskop.
Volgens Joggie van Bruggen, voorsitter van die Thabazimbi DLU was die gebied die jaar besonder geseën. Reeds vroeg in die seisoen het reën geval waarvoor die boere baie dankbaar was. Verder is die afgelope naweek die volgende gemeet: Dwaalboom 50mm, Derdepoort 55mm, Sentrum 27mm, Thabazimbi 35mm, Koedoeskop 60mm, Rooiberg 57mm en Northam 35mm. Hy het gesê dat dit ongelooflik is om die byna onmiddellike impak van reën op die veld te sien.
Nico Solomon, voorsitter van die Ellisras DLU, het gesê dat die gebied reeds 70mm vir November gemeet het. Dit het weer begin reën. Die grondpaaie wat reeds in ‘n swak toestand is, sal nou verder versleg maar hy het bygevoeg dat geen mens reën kan nadoen of vervang nie en al die boere is innig dankbaar vir die wonderlike gawe.
Gerhard Visser, voorsitter van die Koedoesrand DLU het gesê dat die boere wat besig is met die voorbereiding vir die nuwe seisoen se harte juig. Baltimore het Vrydagoggend reeds 48mm gemeet, Marken 55mm, Tom Burke 40mm, Swartwater 43mm en Tolwe 40mm. Dit het die naweek nog steeds in die gebied gereën. Dakke lek maar niemand gee daarvoor om nie. Die ou bosveld sal binne dae reeds met groen sproetjies gespikkel wees en binne skaars ‘n week sal die gras en blare helder, skoon en groen skyn.
Hans Vreugdenburg, voorsitter van die Vaalwater DLU het gesê dat op Vaalwater 45mm reën gemeet is. Melkrivier 30mm en Alma 20mm. Op Alma het ‘n sterk wind gewaai en die boere het gesê dat die koue nie goed vir die tabak is nie. Ook is baie reën die tyd van die jaar nie goed vir koring nie. Sover is daar gelukkig nog nie skade aangemeld nie.
Bulgerivier het tussen 30–35mm gemeet. Hy het ook gesê dat die grondpaaie in die gebied nou in ‘n baie slegte toestand is.