Pro Bow Boogklub, Thabazimbi presteer uitsonderlik
PRETORIA – SABA (South African Bow Hunters Assosiation) Gauteng het op Saterdag 21 November 2009 hul jaarlikse prysuitdeling te Bundu Inn, Hornsnek, Pretoria aangebied.
Deur die loop van die jaar is 9 kompetisies, waaraan Pro Bow Boogklub, Thabazimbi se lede deelgeneem het, aangebied. Nie net is die skuts se skietvernuf beproef nie, maar ook stamina en uithouvermoë. Sommige kompetisies was in snerpende koue met ysreën, ander weer in uitmergelende hitte, al klimmende oor rotse en klippe, elkeen met sy eie unieke uitdagings. Met sommige kompetisies moes die deelnemers al 03:30 vertrek om betyds by hul bestemming te wees.
Daar was in verskeie kategorieë, in span verband sowel as individuele kategorieë deelgeneem.
Die Pro Bow Boogklub Span bestaande uit die volgende skuts: Henk Engelbrecht, Malan Hermann, Hein Holtzhausen, en Quintin Jansen van Vuuren, het skoonskip gemaak en wen met ‘n span gemiddeld van 91,6%. Die “I Hunt” span wat tweede geëindig het, het 78% gemiddeld behaal. In die kategorie: “Senior Male – Broadhead” is Henk Engelbrecht aangewys as die wenner “Top Senior Male – Broadhead” met ‘n gemiddeld van 97%. In die kategorie: “Senior Female – Broadhead” is Antoinette Hermann aangewys as die wenner “Top Senior Female – Broadhead” met ‘n gemiddeld van 84%. Quintin Jansen van Vuuren is as die wenner “Top Junior Male – Broadhead” met ‘n gemiddeld van 95.5% in die kategorie: “Junior Male – Broadhead” aangewys.
In die kategorie: “Cub Female – Fieldpoint” het Niané Engelbrecht ‘n tweedeplek behaal met ‘n gemiddeld van 74.8%.
Die SABA deelnemers gedurende 2009, bedank graag al die persone, instansies en hul gesinne wat dit vir hul moontlik gemaak het om aan die kompetisies te kon deelneem om sodoende die hooftrofeë huis toe te bring.