Ons salueer jou, Mathys

THABAZIMBI – Mathys Roets het Woensdagaand 25 November by die KunsteGrot voor ‘n vol saal opgetree.
Hy is nog dieselfde Mathys, met min showerigheid en baie “vat my soos ek kom”. En daardie stem is nog daar, maar nou het sy vertonings die ekstra dimensie van ‘n man wat meer oopmaak en ‘n kykie ín sy lewe gee.

Hy praat openlik tussen liedjies oor die ongeluk, vriende wat hom bygestaan het, sy verblyf in die hospitaal en ander gebeurtenisse in sy lewe. Hy begin die vertoning met die stelling dat sy motorfietsongeluk, waarin sy onderlyf verlam gelaat is, hom geleer het dat meeste mense op aarde meer goed as kwaad in hulle het.

En daar is heelwat humor en selfs ‘n bietjie selfspot, wat wys dat hy homself en sy ongeluk miskien nie té ernstig op neem nie.

Hy het verwys na die liedjieskrywers wat liedjies skryf vir geliefdes, party soms braaf genoeg om name by te voeg, van sy stem wat ‘n paar oktawe in die boonste register verloor het (maar darem ‘n paar bygekry het aan die onderkant), van die nuwe CD-reeks waarmee hy hoop om ‘n nuwe boot te koop (tong in die kies natuurlik?) en Mienkie van der Westhuizen wat sy hare in die hospitaal gewas het.

Maar hoe mens nou ook al daarteen stry, ‘n mens se hart gaan na hom uit. Hy is maer en sy oë is moeg.
Maar Mathys het desnieteenstaande ongelooflike mooi interpretasies gelewer van liedjies van Stef Kruger en Piet … de Vries, twee belowende Afrikaanse liedjieskrywers en sangers.

Hy het ook Leonard Cohen, Cat Stevens, Neil Diamond, Roger Whittaker en Koos Kombuis gesing, en natuurlik enkeles van Koos du Plessis, laasgenoemde nog steeds hartroerend mooi.

Na afloop van die vertoning, het Thabazimbiërs hom ‘n staande ovasie gegee, erkenning waarskynlik net soveel vir sy vertoning as vir sy guts om met sy sangloopbaan en lewe voort te gaan na sy motorfietsongeluk.

Hy het die aand afgesluit met Koos du Plessis se “Gebed”, ‘n lied, sê hy, wat nuwe betekenis vir hom die afgelope jaar gekry het.

Hennie Pauw