General

Noodlottige mynongelukke neem in verhouding toe 

Hoewel die aantal mynsterftes vir die eerste tien maande van die jaar minder is as vir dieselfde tydperk verlede jaar, is die verhouding van die aantal noodlottige ongelukke teenoor die aantal ongelukke vanjaar hoër as dié van verlede jaar, het die vakbond Solidariteit gesê. Intussen lê die sogenaamde komkommertyd (“silly season”) waarin mynongelukke tradisioneel gedurende die laaste twee maande van die jaar skerp toeneem, ook voor.

Volgens Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans was daar in die eerste tien maande van die jaar 2 691 mynongelukke waarin 143 mynwerkers gesterf het. Daarenteen was daar 3 257 mynongelukke in dieselfde tydperk van 2008 waarin 148 mynwerkers gesterf het. “Volgens dié syfers was 5,31% van die ongelukke wat reeds vanjaar plaasgevind het noodlottig, teenoor 4,54% in 2008,” sê Kleynhans. “Anders gestel het daar vanjaar reeds een mynwerker gesterf vir elke 18 ongelukke wat plaasgevind het teenoor een sterfte vir elke 22 ongelukke wat verlede jaar plaasgevind het.”

Solidariteit meen dat Suid-Afrikaanse myne geensins tevrede kan wees met die huidige vlak van mynsterftes nie. “Die aantal ongelukke vir die eerste tien maande van die jaar is wel 17% minder as verlede jaar, maar die aantal noodlottige ongelukke het slegs met 3% afgeneem en nie ook in verhouding afgeneem soos in die geval van die aantal ongelukke in die algemeen nie,” sê Kleynhans.

Solidariteit het ook gewaarsku dat myne en mynwerkers die sogenaamde “silly season” gedurende November en Desember, as ‘n kritieke tyd vir die opskerping van mynveiligheid moet beskou. “As mynmaatskappye nie ernstige stappe doen om hul op veiligheid toe te spits gedurende dié seisoen nie, sal mynsterftes tot die einde van die jaar toeneem en sal sterftes vir die jaar moontlik dié van 2008 kan verbysteek,” verduidelik Kleynhans. In 2008 is 168 mynwerkers dood teenoor 221 wat in 2007 op myne gesterf het.

Die vakbond het ook ? beroep op veral platinum- en goudmyne gedoen om in die laaste twee maande van die jaar veiligheid ernstig op te skerp. Volgens data van die Departement van Mynbou was daar tot en met einde Oktober vanjaar reeds 37 sterftes op platinummyne teenoor die 32 wat vir dieselfde tydperk verlede jaar aangeteken is. Daarbenewens het die aantal ongelukke op dié myne met 18% toegeneem vanaf 1 053 in 2008 tot 1 243 in 2009. Die goudbedryf bly egter steeds ? groot slagoffer van mynsterftes met 67 mynsterftes wat reeds in die jaar aangeteken is in die sektor terwyl 13 sterftes in die steenkoolsektor en 26 in ander sektore aangemeld is.