Lephalale trek op teen misdaad
Met stygende misdaadsyfers, veral in gevalle van huisroof (inbrake terwyl inwoners tuis is), verkragting en aanranding, asook drie plaasaanvalle in twee weke, het inwoners van Lephalale en Marapong besluit ‘Genoeg is genoeg!’
Inwoners het Saterdagoggend gewys hulle kan saamstaan, toe hulle hul voet neergesit het teen misdaad in die Lephalale-omgewing.
‘n Memorandum en petisie is oorhandig aan die plaaslike hoof van die SAPD, Supt. Wessel Geldenhuys deur organiseerders, raadslede Stef Snijders en Stephne Malamela.
In die memorandum eis die gemeenskap van Lephalale dat hul grondwetlike reg op veiligheid en sekuriteit beskerm word deur diegene verantwoordelik hiervoor.
Te midde van groot ontwikkelings in die Lephalale-gebied, wat volgens almal in landsbelang is, het misdaad geweldig toegeneem. Veral geweldsmisdade soos huisroof, aanrandings, gewapende roof, verkragting en moord is besig om die gemeenskap van Lephalale finaal teen die grond te verpletter. Die huidige situasie is volgens die memorandum onaanvaarbaar. Volgens die organiseerders is een enkele moord of verkragting een te veel.
Hul eis aksie van die owerheid ten opsigte van die volgende:
- dat die plaaslike SAPD bemagtig word om hul taak te verrig deur die nodige ervare mannekrag, opleiding en toerusting te verkry wat hulle nodig het om hul taak mee te verrig;
- dat wette en Munisipale Verordeninge so geformuleer word, dat dit effektief toegepas kan word
- dat die kwessie van onwettige immigrante in die gebied aangespreek sal word;
- dat die kwessie van hawelose mense effektief deur die regering aangespreek sal word;
Volgens mnr Stef Snijders, organiseerder en raadslid vir Onverwacht, is hulle uiters teleurgesteld in die feit dat die munisipaliteit nie opgedaag het nie. Hy was vroeër die week in ‘n vergadering met die hoof van verkeer, mnr Aggrey Mailana, verteenwoordigers van die munisipaliteite in die SAPD. Die burgemeester, me Rosina Mogotlane het vooraf aan mnr Jan van Niekerk, lid van die uitvoerende komitee en deelnemer aan die optog, bevestig dat sy sal kom saamstap, voor sy die memorandum in ontvangs neem. Geen verteenwoordiger van die munisipaliteit het egter opgedaag nie. Geen verkeerspersoneel het beskerming aan optogggangers verleen of die verkeer gereguleer nie.
Die organiseerders het hulle tevredenheid uitgespreek oor die deelname ten spyte van die bewolkte weer en hoop dat die belangrike kwessie weereens onder die owerhede en plaaslike inwoners se aandag gebring sal word.
Die petisie en memorandums al later in die parlement aan die minister persoonlik oorhandig word, sowel as aan die LUR in die provinsiale wetgewer.
Elana Greyling