Helder sonstraaltjies by Kleuterskool

SWARTKLIP – Die Sonstraaltjie Kleuterskool te Swartklip het verlede Donderdag 12 November hul Kleuterskool Konsert, met die tema “Welkom by ons Towertuin” aangebied.

Daar het die klein kindertjies vir ma en pa gewys hulle akteur loopbane begin op ‘n jong ouderdom. Van die kleuters het dit baie geniet om te dans en sing al was daar so nou en dan een kleuter wat sy ma gesoek het.  Die program het alles van nommers, Wouter kabouter, paddaskool, dierekonsert, goggas in die tuin tot sjakadoem om maar ‘n paar te noem, ingesluit. Die wurms, bytjies en blommetjies het deur die konsert gezoem zoem en die dapper muise het vir die groot gelag gesorg. Die miere het soos wafferse soldate al om die suikerklonte gedrom, wat hierdie waarlik ‘n Towertuin-konsert gemaak het.

Die ouers het die aand baie geniet. Die kleuterskool bedank graag almal wat ‘n handjie bygesit het in die kostuum ontwerpe en ander reëlings wat die aand so ‘n treffer gemaak het.