General

Brandwet kry tande in Thabazimbi

THABAZIMBI – Goeie samewerking tussen rolspelers gaan dit waarskynlik moontlik maak dat die Brandwet effektief in Thabazimbi toegepas sal word. Dít het geblyk by die laaste vergadering van 2009 van die Thabazimbi Brandbeskermingsvereniging (TFPA) in November.

Dit sal beteken dat vervolgings suksesvol ingestel kan word waar wegholveldbrande ontstaan het as gevolg van die nie-nakoming van die wet. Die houding van sommige grondeienaars van “ek sal my grond brand soos en wanneer ek wil” sonder inagneming van bure en plaaslike strukture wat hierdie aksies beheer, sal nie voortaan betaal nie.

Dit blyk dat ‘n staatsaanklaer van Modimolle, wie se kennisveld spesifiek gerig is op die toepassing van omgewingswetgewing, moontlik sal help ondersoek instel na brande wat die afgelope seisoen in die distrik ontstaan het en baie skade aangerig het. Die saak is nie destyds verder deur die polisie ondersoek nie.

Aangesien daar nog onkundigheid bestaan oor die wetgewing en watter rolspelers betrokke is by die toepassing van die wet, is dit van kardinale belang dat hierdie proses verder gedryf word deur die TFPA om seker te maak dat die polisie, grondeienaars, regstelsel, en nodige staatsdepartemente almal saamwerk om skuldiges aan die pen te laat ry en verantwoordelike brandpraktyke aan te moedig.

Die Thabazimbi Brandbeskermingsvereniging het reeds ‘n groot rol gespeel in die ontwikkeling van ‘n goeie netwerk en vergaderings word tans deur ‘n verskeidenheid van instansies bygewoon, soos Eskom, myngroepe, Departement van Waterwese, Departement van Landbou en Departement van Arbeid.

Daar is ook tydens die laaste vergadering aandag gegee aan die ontwikkeling van SETA-erkende brandbestrydingskursusse vir plaaswerkers, polisie en ander instansies. Die myne speel ‘n belangrike rol hierin.
Die jaar se laaste TFPA-vergadering is bygewoon deur Violet Baloyi van Polokwane, die Dept van Landbou se Bron Ouditeur vir die Waterbergstreek. Sy het aan die TFPA die proses verduidelik wat gevolg word wanneer goedkeuring van die Departement van Landbou (Direktoraat: Grondbestuur) verkry word vir die brand van blokke.

Haar direktoraat is verantwoordelik vir die regulering van landbougrond ten opsigte van aspekte soos erosie, verlies aan bogrond, bosindringing en plantindringers. Vir hierdie rede moet daar eers toestemming van die Departement Landbou verkry word om blokke te brand. Fisiese inspeksies word ter plaatse gedoen.

Baloyi het aangedui dat die aansoek 30 dae voor die brand reeds by haar moet wees, maar verkieslik langer voor die tyd, aangesien sy die enigste persoon is wat die hele Waterberg distrik dien. Die TFPA beveel aan dat, aangesien grondeienaars hul bestuursplanne en jaarbeplanning reeds vroeg doen, hierdie aansoeke sommer daarmee saam gedoen word.

Die TFPA het egter dit duidelik gemaak dat die toestemming van die Departement Landbou nie die toestemming vervang wat van plaaslike brandbeskermingsvereniging gee om te brand nie. Die kriteria waarvolgens toestemming deur die plaaslike brandbeskermingsvereniging toestemming verleen berus op aspekte soos grondvogtoestande, brandverbod, windtoestande, of kennisgewing aan bure plaasgevind het en beskikbaarheid van brandbestrydingstoerusting.

Daar is ter afsluiting groot dankbaarheid uitgespreek dat die gebied die reuse vernietigende brande van die vorige seisoen vrygespring het danksy die vroeë reëns.

Hennie Pauw