Warmbadweg word opgradeer
THABAZIMBI – Inwoners van Thabazimbi is versoek om geduldig te wees terwyl opgradering van, onder andere, Warmbadweg plaasvind gedurende die volgende maand.
Vir die volgende twee weke, word daar “lapwerk” gedoen aan Warmbadweg hoofsaaklik om die gate en insinkings te vul. Daarna sal ‘n “milling team” dié oppervlakke wat krake vertoon opgradeer en laastens sal die pad geseël word nadat al die herstelwerk gedoen is. Die verf van lyne vind plaas sowat 10 weke na die pad geseël is om ‘n periode van verduursaming (“curing”) toe te laat.
Die gedeelte van Warmbadweg waaraan gewerk sal word, strek van die voerband by Kumba tot by die treinbrug. Die Lephalale-pad by die aansluiting in Thabazimbi sal ook opgradeer word. Dit word vanaf die T-aansluiting tot by die busdepot gedoen. Hierdie paaie word opgradeer en herseël en die padskouers word hergruis.
Dan word die hele lengte van Lood-Shaistraat vanaf Warmbadweg tot waar dit doodloop ook opgradeer. Werk aan hierdie pad is hoofsaaklik op voorkoming gerig.
Volgens raadgewende ingenieurs Fick Hollenbach en Vennote van Potchefstroom is daar van ‘n kontrakteur genaamd Advanced Surfacing gebruik gemaak vir die opgradering van die paaie. Fick Hollenbach is tans in die proses om ‘n kantoor in Thabazimbi oop te maak en volgens Gerhard Uys van dié firma sal daar van plaaslike arbeid gebruik gemaak word en opleiding sal verskaf word. Dit sal help om kundigheid in die omgewing in te bring.
Die raadgewende ingenieurs vra om verskoning vir die ongerief, maar verseker dat die tydelike verkeersprobleme die moeite sal loon. Hulle versoek motoriste om geduldig te wees en ag te slaan op die vlagmanne en tydelike padtekens.
Hennie Pauw