Sport

Thabazimbi Swemklub weer op dreef

THABAZIMBI – Heleen Stevens oud afrigter van die eertydse bekende Thaba Swemklub het nadat sy die swemmers vir 7 jaar onder Tuks laat swem het, weer die ou klub op die been gebring.

Al die swemmers word onder Limpopo Swem geregistreer en swem dus vir die Noordelike streek. Die klub het op 6 November hulle 1ste sprint-gala te Polokwane geswem. Die baie suksesvolle gala was aangebied deur Tzaneen se Shamu klub. Alhoewel die standaarde uiters hoog was, het die swemmers almal goed gevaar. Die swemmers het die week van 3-6 November baie hard geoefen en die Tweede ouderdomsgroep Gala aangebied. Al die harde oefening het vrugte afgewerp. Anmari Schutte het tot 12 sekondes op haar 100m borsslag verbeter. Sy behaal derdeplek in die 100m borsslag en tweedeplek in die 200m individuele wisselslag. Wilmien  Schutte, 8 jaar oud, het ook 100m vlinderslag geswem en behaal ‘n eersteplek met die byeenkoms te Tzaneen, ‘n Silwer vir die 50m vlinderslag en ‘n silwer vir die 200m individuele wisselslag. Johan Bezuidenhout, 10 jaar, swem ook vir die eerste keer die 100m galas en presteer met ‘n tweedeplek in die 100m rugslag en ‘n derdeplek in die 100m vryslag. Met sy deelname aan die byeenkoms te Tzaneen het hy ‘n silwer behaal vir 50m rugslag en twee vierdeplekke vir vryslag en vlinderslag, hy wen ook ‘n kontant prys as die derde beste swemmer in sy ouderdom. Nesta Schutte behaal ‘n derdeplek in die individuele wisselslag. Met haar deelname aan die Tzaneen byeenkoms ontvang sy ook ‘n kontantprys vir haar goeie swem gemiddeld. Wickus Stevens behaal ‘n derdeplek vir 100m vlinderslag, ‘n tweedeplek in die 100m borsslag en vir sy deelname aan die Tzaneen byeenkoms behaal hy 2 brons medaljes vir 50m borsslag en 50m vryslag.