General

Polisiemotor beskadig in skietvoorval

THABAZIMBI – Twee polisievoertuie het onder ‘n koeëlreën deurgeloop toe swaar gewapende rowers met ‘n groot hoeveelheid gesteelde kontant op hulle losgetrek het waar hulle die voortvlugtende rowers by die Brits afdraai ingewag het.

Op Dinsdag 17 November ongeveer 01:15 is ‘n Capitec-outobankteller in die Shoprite-sentrum in Northam opgeblaas. ‘n Onbekende hoeveelheid geld is gesteel.

Die ontploffing het die alarmstelsel geaktiveer en sekuriteitspersoneel van Thaba Alarms was gou op die toneel. Daar is op die voertuie van Thaba Alarms geskiet toe die rowers die winkelkompleks verlaat het.

Die verdagtes het met twee voertuie, ‘n BMW en Ford Focus, weggejaag. Teen hierdie tyd is die Northam Polisie ontbied en ‘n jaagtog in die rigting van Thabazimbi het ontstaan.

Bystand is versoek van die Thabazimbi Polisie wat die voortvlugtende voertuie by die Brits-afdraai probeer voorkeer het. Vanuit die voertuie van die rowers, wat se ligte afgeskakel was toe hulle die polisievoertuie gewaar het, het hulle losgebrand op polisievoertuie. Skade is aan twee polisievoertuie aangerig.

Windskerms is beskadig en rondtes is in die voertuie se bakwerk geskiet. Volgens ‘n woordvoerder is daar geen beserings opgedoen deur lede van die polisie nie, ten spyte daarvan dat daar selfs skade aan die binnekant van die motor aangerig is.

Die rowers was swaar gewapen met ten minste drie swaaraanvalsgewere. Daar was ook ander handwapens, waarvan een later deur die polisie opgespoor is. Hulle het van die toneel weggevlug.

Die saak word ondersoek deur Georganiseerde Misdaad in Polokwane.

Hennie Pauw