Moenie agterstallig raak op elektrisiteitsbetaling
THABAZIMBI – Daar was verlede week ‘n hele aantal huishoudings (en selfs besighede) wat sonder krag was nadat ‘n grootskaalse poging geloods is om agterstallige kragverbruikers te dwing om hul rekeninge te betaal.
Onder diegene wie se elektrisiteit gesny is, was daar ook ‘n aantal onskuldige slagoffers. Een van die areas wat verlede week geteiken was, was die onderste singel in Van der Bijlstraat. Van die sewe huise in die singel, was slegs een huis se krag nie afgesny nie.
Twee van hulle, waaronder T&S Makelaars, hoewel hulle niks geskuld het op hul kragrekening en wat ook nie voorafbetaal vir hul elektrisiteit nie, se kragtoevoer was ook afgesny.
Die res van die inwoners in die singel het voorafbetaalde kragmeters, maar die meeste was “gebrug”, met ander woorde die krag na hierdie huise is voorsien sonder voorafbetaling. Dit geskied wanneer daar een of ander fout is met die voorafbetaal-stelsel.
In een geval het ‘n huishouding vir so lank as drie en ‘n half jaar geen betaling gemaak ten opsigte van elektrisiteit nie, omdat die huis se krag gebrug was. Hier moes inwoners die afgelope week tot R12 000 opdok vir agterstallige elektrisiteit-rekeninge.
Die Kwêvoël het navraag gedoen by die Munisipaliteit waarom hierdie probleem so lank laat sloer is sonder dat verbruikers aangeskryf is en waarom hierdie probleem juis nou aangespreek word.
Volgens Jacob Khuabo, hoof by Elektrisiteit, word inwoners, wie se krag gebrug word, aanbeveel om soos gewoonlik voort te gaan met die betaling daarvan. Dit is immers die verantwoordelikheid van elke inwoner om seker te maak dat sy rekening betaal word. Hiermee het Beyers Basson, wat R12 000 vandeesmaand moes opdok, nie ‘n probleem nie; hy neem volle verantwoordelikheid daarvoor.
Daar kon egter geen verduidelik gegee word waarom hierdie spesifieke huishouding vir solank as drie-en-‘n-half-jaar jaar kon wegkom daarmee sonder om hul kragrekening te betaal nie, behalwe dat die situasie ondersoek sal word.
Volgens Gert Snyman, voorsitter van die Thabazimbi Belastingbetalersvereniging, moet huishoudings wat se krag gesny word van drie aanmanings voorsien word, ‘n wit, ‘n groen en ‘n finale (rooi) aanmaning. Die huishoudings in Van der Bijlsingel het geen aanmanings ontvang nie. Die Munisipaliteit se verweer is dat voorafbetaalde meters nie aanmanings benodig nie.
Weinig bevredigende antwoorde is op navrae verskaf. Die Munisipale woordvoerder, Joshua Motsomane, het ingestem dat daar gewerk sal moet word aan beter kommunikasie tussen die Tegniese Afdeling wat die krag, en ander dienste voorsien, en Finansies om van hierdie probleme uit te stryk.
Die Munisipaliteit het ook ontken dat verskillende woonbuurte in Thabazimbi verskillend behandel word. So is die aanklag dat krag nie so maklik in Regorogile gesny word nie, onwaar, sê Khuabo.
Al die uitbreidings in Regorogile, wat deur die Munisipaliteit van krag voorsien word, word van voorafbetaalde meters voorsien en as die krag op is, is dit op. Daar is egter ‘n probleem met onwettige konneksies. Hierdie probleem gaan egter voortaan gemonitor word en hopelik sal daar beter beheer daaroor plaasvind, sê Khuabo.
Hy het ook verduidelik dat die Munisipaliteit in die proses is met die opgradering van voorafbetaalde meters deur die hele dorp en Regorogile. Dit sal die voorkoms van onwettige konneksies ook help beperk. Grinpa, die organisasie wat help met die voorsiening van toerusting en werking van die voorafbetaalde meters het voltyds ‘n werknemer aan diens in Thabazimbi om te verseker dat hierdie meters korrek sal werk.
Laastens was daar ook navraag gedoen oor die diensverskaffer, ‘n invorderaar, wat verantwoordelik is vir die afsny van dienste. Vir elke afsny en heropkoppeling word ‘n bedrag betaal, wat van die huishouding verhaal word.
Daar is egter baie huishoudings wat se krag verkeerdelik gesny is. Die vraag is egter wie is dan verantwoordelik vir die betaling aan die diensverskaffer vir afsny- en heraansluitingsfooie. Dit is onseker of hierdie diens gemonitor dat daar nie onnodige afsny- en aansluitings gedoen word nie. Dit word dan “vrugtelose uitgawes”, verduidelik Gert Snyman (TBBV), waarvoor die belastingbetaler wel indirek betaal.
Indien die korrekte prosesse gevolg word, met waarskuwing en finale aanmanings, sal die werk van die invorderaarsfirma, waarskynlik heelwat minder wees.
Hennie Pauw