Sport

Kampioen van Kampioene bepaal by Gholfklub

THABAZIMBI – Alhoewel die klub se Kampioen van Kampioene gespeel word om die kampioen van al die spelers wat al ‘n maandelikse slagspelbeker gewen het te bepaal, is die kompetisie oop vir al die lede. Saterdag se kompetisie wat tradisioneel oor 27 putjies gespeel word was maar swak ondersteun. Die hitte moet seker die skuld kry. Kerneels Viljoen met ‘n netto 101 is die kampioen. Billy Pring 102 was tweede en Heinrich Penzhorn derde met 107.

Die jaar begin nou einde se kant toe staan. Saterdag word die laaste liga byeenkoms op ons baan gespeel wat beteken dat die baan vir alle ander spel gesluit sal wees. Die jaareindfunksie word op Saterdag 28 November gespeel en dit is die tradisionele Gekkedag. Daar mag net met drie stokke gespeel word waarvan een die setyster moet wees. Die baanmeester mag ook die dag die penne so plaas dat hy wraak kan neem op al die spelers wat deur die jaar sonder rede gekla het. Die dag is dan ook ‘n pretdag waar gholf eintlik tweede kom. Dit gaan oor samesyn in die klub en om net weer enige skurwighede wat daar deur die jaar was weg te lag. Asseblief, kom ondersteun die dag en geniet al jou mede-lede met al hulle ou geitjies.

Dit is ook die aand wat die spesiale toekennings gedoen word en dankie gesê word. Gebruiklik sorg die klub ook die aand vir die eetgoedjies. So maak seker dat jy, ja jy ook, die dag by die gholfklub is.