General

Beter jaar wag op verbruikers

Verbruikers kan beslis uitsien na ’n beter 2010 namate Suid-Afrika en die res van die wêreld stadig maar seker besig is om die kwaaiste resessie sedert die jare dertig van die vorige eeu af te skud, sê Willem Barnard Bemarkings bestuurder van  Sanlam in die Limpopo.

Die internasionale finansiële woelinge van die laaste paar maande het menige gewone salaristrekker ’n kwaai slag toegedien. Hoë pryse, toenemende werkloosheid en die kwaai terugsakking van huispryse was aan die orde van die dag.
Ekonome is dit eens dat die ergste gelukkig nou verby is en dat sake vir die verbruiker vorentoe net beter sal gaan. Dit gaan egter nie oornag geskied nie en streng  finansiële dissipline moet nog vir die afsienbare tydperk gehandhaaf word.
Die enigste troos is dat rentekoerse die laaste tyd gedaal het, wat verligting gebring het vir verbruikers met groot huis- en motorlenings en oortrokke bankrekeninge. Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat koerse binnekort verder verlaag gaan word. Die verwagting is dat dit inderwaarheid in die nuwe jaar weer kan begin styg.

Verbruikers sal in die lig hiervan hul kooplus dus steeds moet temper en veral nie nuwe skuld moet aangaan om veral verbruiksbesteding mee te finansier nie. Menige maatskappye het hul uitgawes tot op die been gesny in ’n poging om die huidige resessie ongeskonde te oorleef en verbruikers kan gerus ’n blaadjie uit hul boek neem.

Die einde van die jaar beteken gewoonlik dat die vakansietyd aangebreek het. Dit sal wys wees om goedkoper verblyf nader aan die huis as vakansiebestemming te kies en nie met uitspattige partytjies en peperduur Kersgeskenke oorboord te gaan nie. Konsentreer op tuisvermaak en praktiese geskenke. Los maar daardie oorsese vakansie vir ’n ander tyd.

Die jaareinde beteken vir baie mense ook groot bonusse en dertiende tjeks. Die wyse verbruikers sal hierdie geld eerder aanwend om bestaande skuld te delg, ’n studiefonds vir die kinders te begin, ’n nuwe annuïteit uit te neem of dit in ’n effektetrust te stort.

Hoewel dit nou ’n kopersmark is, maak dit tans finansiële sin om eerder jou bestaande huis te verbeter as om groot skuld vir jou droomhuis aan te gaan. Weerstaan die versoeking om daardie blinknuwe motor in die toonkamer aan te skaf en ry liewer nog ’n jaar met die ou, maar getroue, gesinsmotor.

Die nuwe jaar is ook ’n goeie tyd om opnuut na jou persoonlike geldsake te kyk. Is jou lewensversekering voldoende? Hoe staan sake met jou pensioen- en mediese fonds? Is jou neseier in die bank groot genoeg om vir groot, onvoorsiene uitgawes voorsiening te maak?

Dit is ook ’n goeie idee om weer eens jou finansiële konsultant nader te trek sodat hy jou geldsake kan ontleed en dan verstellings voor te stel. Konsultante is goed onderleg om oplossings aan die hand te doen wat spesifiek aan elke individue se unieke behoeftes te voldoen.

Wend veral ’n poging aan om in die nuwe jaar meer te spaar. Suid-Afrikaners is berug daarvoor dat hulle gans te min spaar en gans te veel op skuld lewe. Daar is geen beter tyd as juis nou om hierdie situasie om te keer nie.

Konsolideer jou skuld ten einde minder rente op skuld te betaal. Los heel eerste jou duurste skuld af, soos oortrokke rekeninge, kredietkaartskuld en persoonlike lenings. As jy dan moet leen om noodsaaklike uitgawes aan te gaan, is dit beter om jou huisverband daarvoor te benut, aangesien dit tans die heel goedkoopste manier is om geld te leen. Betaal dit egter so gou moontlik terug sodra jou finansiële posisie verbeter het.