Anita skiet weer boog
Hennie Pauw
THABAZIMBI – Die sewe-jarige Anita Peens, wat drie en ‘n half maande gelede ‘n gedeelte van haar regterarm verloor het in ‘n busongeluk, beoefen nou weer een van haar ou belangstellings, naamlik boogskiet.
Volgens haar pa, Sarel, het sy en haar broer, Wessel, begin boog skiet toe Anita nog maar ‘n skrale 3 jaar oud was. Sarel het vir haar en Wessel ‘n klein boog gekoop om saam met hom te skiet.
“Jy ken ‘n kind, wil alles doen wat pappa doen.” So het Anita jonk-jonk begin boog skiet en dit vreeslik baie geniet. Sy het ongelukkig later die boog ontgroei en die boogskietery was vir eers van die baan. Sy het egter altyd daaroor bly praat.
So begin-Oktober, toe die gesin ‘n program oor boogskiet op die TV gekyk het, noem Anita uit die bloute dat sy seker nooit weer sal kan boog skiet nie, aangesien sy nou net een armpie het. Sarel en sy vrou, Olga, het toe aan haar verduidelik dat sy enigiets kan doen wat sy wil – dit sal net ‘n bietjie harder werk kos.
Nico Engelbrecht van Pro Bow Boogklub het van Anita se wens te hore gekom en die Peense genader en sy hulp aangebied. Nico bied toe aan om boogskietlesse aan Anita te gee. Die klub het ook besluit om ‘n boog aan Anita te skenk.
Sy het op Donderdag 29 Oktober vir haar eerste skietles gegaan en bo verwagting goed gedoen. Sy het sommer uit die staanspoor die boog met selfvertroue vasgebyt en geskiet.
Sedertdien tel Anita letterlik die slapies tot elke Donderdag wanneer sy vir haar lesse gaan.
Tot dusver was die lesse hoofsaaklik gemik daarop om haar meer vertroud met die boog te maak. Sy sal later met haar eie boog, wat uit die buiteland bestel is, begin skiet. Die meer ingewikkelde tegnieke en benaderings, soos groeperings, sal ook moet wag tot sy bietjie meer geoefen het om te skiet.
Volgens Sarel is hulle ongelooflik dankbaar teenoor Pro Bow vir wat dié klub alles vir hul “klein engeltjie” gedoen het. Hy hoop dat Anita sal besef dat hierdie ondervinding haar help leer het om dít wat sy wil in die lewe te doen met alles wat sy het. Soos Wickus van der Merwe vir haar gesê het: “Gooi jou lewe los.”