Oud inwoner van Tambotie Versorgingsoord oorlede
THABAZIMBI – Tannie Johanna Grimes is Dinsdag 10 November in die ouderdom van 91 jaar oorlede.
Sy was een van die eerste inwoners van Tambotie Versorgingsoord en is die afgelope drie jaar daar versorg. Tannie Johanna Grimes is op 22 Maart 1918 in Swartruggens omgewing gebore. Haar pa koop die plaas Wachteenbietjiesdraai en die gesin trek Thabazimbi toe. Na haar huwelik met oom Willie Grimes verhuis hulle na Rustenburg. In 1951 trek die Grimes gesin terug Thabazimbi toe. Terwyl haar eggenoot by Yskor werksaam is hanteer sy die boerdery. Na sy afsterwe in 1985 behartig sy die boerdery op haar eie. Sy sal altyd onthou word as hierdie ambisieuse boervrou wat vir alles kans gesien het. Sy laat een suster, twee seuns, drie dogters, 17 kleinkinders en drie agter-kleinkinders na.
Die begrafnisdiens vind Maandag 16 November om 11:00 vanuit die AP Kerk Thabazimbi plaas.