KANSA se aandpretloop ‘n reuse sukses
Hennie Pauw
THABAZIMBI – KANSA Thabazimbi het tydens Oktober, Borskankermaand, verskeie bewusmakingveldtogte geloods en afgesluit met ‘n uiters suksesvolle aandpretloop op Woensdag 28 Oktober.
Altesaam 193 Thabazimbiërs het by die wegspringplek by Thaba Stereo vergader, sommige in onmiskenbare “spandrag”. Sommige mense het die pretloop ernstig opgeneem en die 10 km deur die strate van Thabazimbi in ‘n kort tyd kafgedraf. Ander was redelik ernstig en het 5km gedraf, maar die meeste mense het die 5km gestap – in groot groepe waar daar lekker gesels en geskerts is.
Meer as R10 000 is tydens die pretloop ingesamel deur inskrywingsgelde en borge. Hierdie bydrae word gelewer vir kankernavorsing en ondersteuningsdienste landwyd.
Die wenners van die 10km Volwasse Manswedloop was Theuns Koloi, Victor Mugwara en Charles Mtsweni. Die dameswenners was Zanie van Rensburg, Lindie Lategan en Herma du Plessis. Daar was slegs een deelnemer onderskeidelik in die laerskool-, Jacques Swart en in die hoërskoolafdeling, Alfred Tlhabadira, wat vir die 10km pretloop ingeskryf het.
Vir die 5km wedloop was die wenners (Volwasse Mans) Frans Shongoane, Martin van den Heever en ShaneLee Dye. Die dameswenners was Leana van Niekerk, Belinda Kleynhans en Kitty Vermaak.
In die hoërskool-afdeling was die 5km-wenners (meisies) Marlize Minnaar, Minette van Rhyn en Ruani Koekemoer. Die seunswenners was Jeandre Fourie, Franco Terblanche en Henco Terblanche.
Die 5km laerskooldogters wat deelgeneem en gewen het, was Poeksie Roux, Lee Kramer en Ka-Ria du Toit. Die seunswenners was Anrich Swart, Charl le Roux en Janré Combrink.
Projekte wat tydens Borskankermaand geloods is, sluit in die verkoop van pienk strikkies, ‘n mobiele papsmeer-kliniek, ‘n Cuppa-oggend, radio-onderhoude met borskankerlyers, praatjies by skole en ‘n Shave & Spray. Laasgenoemde was ten bate van Shawn de Jager, die 25-jarige oud-Thabazimbiër wat hierdie week sy stryd teen kanker verloor het.
Lize Momberg, KANSA-koördineerder in Thabazimbi, bedank al die borge, ondersteuners en organiseerders van projekte tydens Borskankermaand. Sy doen ook ‘n beroep op inwoners van die dorp om aan te sluit as vrywilligers en ‘n verskil te help maak.