Derde aanval in 10 dae
KOEDOESRAND – ‘n Man en sy vrou is Sondag 1 November deur twee mense aangeval terwyl hulle van die kerk af oppad huis toe was. Die aanval het op die plaas Clanwiliam naby Swartwater in die Koedoesrand Distrik Landbou Unie (DLU) gebied plaasgevind toe die egpaar by die plaashek gestop het.
Mnr Izak Janse van Vuuren (59) is met ‘n hamer en knopkieries in die gesig geslaan en is agterop die bakkie gegooi terwyl sy vrou, Mariaan (56), gedwing was om voor saam met die aanvallers te sit. Mnr Janse van Vuuren het daarin geslaag om homself los te wikkel. Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor toe hulle oor ‘n hobbel gery en daarna teen die heining tot stilstand gekom het. Toe hulle die enjin nie weer aan die gang kon kry nie het hulle uitgespring en weggehardloop. Mnr Janse van Vuuren het toe van die bakkie afgeklim om die boosdoeners met klippe te bestook.
Hy het vir sy vrou gesê om na die huis te jaag en die boere te bel. Binne minute was die Swartwater gemeenskap gemobiliseer. Daar is dadelik versterkings na die huis gestuur. Die beseerde mnr Janse van Vuuren is in die veld gevind en hy is ook na die huis geneem. Die huis is beveilig en die plaaslike mediese dokter is uitgeroep om na die beseerde om te sien. Mnr Janse van Vuuren is Maandag in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria geopereer waar sy toestand as ernstig deurgegee is.
Radiokontak is gemaak en lede van die Boereverenigings van Swartwater, Tom Bourke, Tolwe, Baltimore en selfs so ver as Marken het onmiddellik gereageer en alle paaie is in die omgewing toegemaak. Selfs boere van Ellisras het gehelp. Twee privaat vastevlerk vliegtuie is ontplooi en selfs ‘n gyrocopter het aan die soektog deelgeneem. Een van die aanvallers is binne ure gevang. Sy makker is dieselfde aand ook aangekeer. Die twee boosdoeners het glo op plase in die omgewing gewerk.
Volgens mnr Japie Spanio, voorsitter van die Provinsiale Veiligheidskomitee, was dit duidelik dat die aanval beplan is. Dit wil ook voorkom asof een van die aanvallers, beide Suid-Afrikaanse burgers, op borg uit is vir ‘n ander misdaad.
Spanio het gesê dat drie aanvalle in 10 dae nie toevallig is nie. Daarom is daar besluit om ‘n Groenlig operasie in die Ellisras-Koedoesrand gebied te hou.
Die operasie gaan op Vrydag 6 November 2009 plaasvind. ‘n Brief is aan die LUR van Veiligheid en die Provinsiale Kommissaris gestuur met die versoek dat hulle sal deelneem aan die operasie maar meer nog, dat ‘n spesiale eenheid gestuur sal word om met die ondersoeke te help.