Bosveld Akademie Ou Skool, Nuwe era
THABAZIMBI – Op Donderdag 29 Oktober het Bosveld Akademie hul lang verwagte opedag gehou.
Die doel van die dag was om die publiek ‘n kans te gee om te kom sien wat die skool in ‘n klas van sy eie sit.
Sonder enige oorbodige formaliteite is die ouers en kinders voorgestel aan die onderwysers en alles wat die skool bied. Die ouers en kinders het ook die geleentheid gehad om die onderwysers in hulle klaskamers te besoek, om ook sommer te sien waar hulle kinders die res van hulle skoolloopbane gaan voltooi. Gemaklike klaskamers waar individuele aandag moontlik is en die leerling in gemak sy skoolwerk kan doen was van die begin af een van die groot doelwitte met die beplanning van die nuwe geboue. Daarby is die fasiliteite met sy uitsig oor die Kransberge en splinternuwe sportterrein ook baie veilig en toeganklik vir ouers.
Akademie, sport en kultuur is alles aangespreek en te oordeel aan die glimlagte en positiewe kommentaar op die terugvoerlyste, sien ouers en kinders daarna uit om deel te wees van Bosveld Akademie.
‘n Paar ouers het selfs ‘n vinnige breinprofiel ontleding laat doen en was verras om te sien hoe groot impak dit op hulle en hulle kinders gaan hê. Met ‘n voltydse terapeut het die leerling vrye toegang tot die beste studiemetodes, breinprofiel ontleding en talle aspekte wat hom gaan help om sy volle potensiaal te bereik.
Almal was dit eens dat Bosveld Akademie in ‘n baie kort tydjie daarin kon slaag om sy staal te wys om sodoende ‘n groot rolspeler in die keuse vir ‘n skool te word. Met ‘n verrykte kurrikulum, ‘n voltydse terapeut, innoverende studiemetodes en daarmee saam briljante fasiliteite is dit ‘n skool om dop te hou en ingedagte te hou as dit kom by ‘n keuse.
Met Afrikaans as onderrigtaal en ‘n fondasie gegiet in God se Woord kan elkeen met groot opgewondenheid die skool dophou. Die vriendelikheid van kinders en onderwysers is ‘n teken van ‘n baie goeie basis waarop Bosveld Akademie funksioneer. Onnodig om te sê dat almal, wat die dag bygewoon het, verras was met die hoë standaard en geleenthede wat hulle kinders aan blootgestel gaan word. Daar is nog steeds ‘n uitnodiging na die publiek toe om te kom kyk en hulle self te vergewis van al die geleenthede en fasiliteite wat in Bosveld Akademie tot sy leerlinge se beskikking is.
Hou gerus Die Kwêvoël dop vir nuus en gebeure aangaande Bosveld Akademie.
Indien u meer wil uitvind oor Bosveld Akademie is u welkom om hulle te skakel by 014 772 2111 of u kan die webblad besoek by www.baprivaatskool.co.za.
– Uitgereik deur Johan Muller