Musiekfees en gholf ten bate van Anfa-fonds
THABAZIMBI – Die Thabazimbi Gholfklub gaan op Saterdag 7 November ‘n jolige putjie bykry wanneer die JRA Musiekfees ten bate van Fanie en Anita, die twee slagoffertjies van ‘n motorongeluk in Augustus waarin beide ‘n ledemaat verloor het, aangebied word.
Dié fees wat met sangers soos Heinz Winckler en Wicus van der Merwe spog begin omstreeks 08:00 met ‘n “4 Ball best ball” gholfdag waaraan vier spelers per span deelneem. Die kostes beloop R300 per speler wat die toegang vir die musiekfees insluit. Die musiekfees skop om 17:00 af met opkomende kunstenaars en DJ’s, die biertuin sal die dors les, terwyl hope kosstalletjies beskikbaar is en springkastele om die jongspan te vermaak. Die ingang vir die musiekfees beloop R100 per persoon. Al die fondse wat deur die dag geïn word, gaan vir Fanie en Anita se fonds, beter bekend as die Anfa fonds. Vir kaartjies en Anfa fonds besonderhede, besoek Jordaan, Retief en Assosiate Rekenmeesters en Belasting praktisyns te Elandstraat 5 of skakel Elrina by 082 578 6529 of Gereldine by 014 777 2170 vir meer inligting oor borgskapopsies en kaartjieverkope. Almal word hartlik uitgenooi om die besondere fees by te woon.