Vordering en vrae by Brandbeskermingvereniging
Hennie Pauw
THABAZIMBI – Ernstige vrae is by vanjaar se voorlaaste vergadering van die Thabazimbi Brandbeskermingsvereniging (TFPA – Thabazimbi Fire Protection Association) op 14 Oktober gevra oor die wesenlike vordering wat gemaak is sedert die ontstaan van die vereniging drie jaar gelede.
Thabazimbi se vereniging is verlede jaar aangewys by ‘n landwye oudit as die vereniging wat die meeste ontwikkel het. Die afgelope drie jaar vereis wetgewing dat alle munisipale distrikte brandbeskermingsverenigings ontwikkel as ‘n samewerkingsforum tussen munisipale beskermingsdienste en grondeienaars.
Grondeienaars en plaasboere wat nie aan die plaaslike brandbeskermingsvereniging behoort nie, is nie geregtig op regeringsbystand ná brande nie.
Onsekerheid bestaan egter nog binne die TFPA oor sekere prosesse, soos onder andere, die aansoek om fondse vir brandbestrydingstoerusting. Een van die knelpunte was ook hoe brandbestrydingstoerusting tot die beskikking gestel sal word van boere wat aan die buitewyke van die distrik bly.
Volgens Jan Viljoen, ondervoorsitter van die TFPA, en voorsitter van die TLU Noord, sal boere nie belasting betaal as hulle nie dieselfde mate van toegang het tot die dienste en toerusting van die Brandweer nie. Daar word tans verwag dat die Brandweer ‘n betalende diens lewer.
Na die verwoestende brande van verlede jaar is daar goeie voorsiening gemaak deur die Waterberg Distriksmunisipaliteit vir toerusting aan Rampbestuur-eenhede by die verskillende munisipaliteite in sy distrik.
Daar word binne die volgende drie maande ‘n brandbestrydingsvoertuig van ongeveer R3m aan die Thabazimbi Munisipaliteit voorsien, sowel as handradios en kleiner toerusting (small gear).
Vir die toekoms word daar satellietstasies beplan vir Northam, Dwaalboom en Rooiberg, waar brandbestrydingstoerusting wyer versprei sal word in die Thabazimbi-distrik. Een van die groot probleme in die Rooiberg-gebied is kommunikasiestelsels. Selfoonontvangs is swak in bergagtige dele rondom Rooiberg en versterkers is nodig wanneer handradios gebruik word.
Een van die ander kwessies waaroor beswaar aangeteken is by die vergadering is die oënskynlike gebrek aan ‘n wil of vermoë aan die polisie se kant om klagtes van brandstigting te ondersoek. Dit blyk dat die Rooiberg Polisie nie klagtes wat gelê is, nadat meer as 10 000 ha veld afgebrand het by Elandsberg Natuurreservaat (insluitend ‘n vakansiehuis) en verder oos, ondersoek het nie.
Geen vordering word tans gemaak ten opsigte van die opruiming van die skouers van paaie nie. Daar is onlangs berig dat die Paaie Departement van die Waterberg Distriksmunisipaliteit verantwoordelik is daarvoor om kontrakteurs aan te stel of om boere as diensverskaffers aan te stel wat die padskouers, wat aan hulle grond grens, skoon te hou. Niemand van die Paaie Departement het egter die vergadering bygewoon nie, wat ernstige vrae laat ontstaan oor die erns waarmee hierdie departement sy verantwoordelikhede bejeën.
Dit blyk dat die grense van die areas waarvoor TFPA-satellietleiers verantwoordelik is feitelik gefinaliseer is. Behalwe vir ‘n klein gedeelte suid van Northam, word die hele Thabazimbi-distrik verteenwoordig deur TFPA-satellietleiers.
Daar is tydens die vergadering verwys na die groot rol wat die brandbestrydingseenhede van die myne speel wanneer brande uitbreek en groot dankbaarheid is uitgespreek vir die hulp wat so geredelik uit hierdie oord ontvang word.
Kommer is wel uitgespreek oor die feit dat inwoners van trustgrond geen voorsiening maak teen brande nie. Dit hou ‘n groot gevaar in vir bure van hierdie gebiede. Veld word goedsmoeds aan die brand gesteek en dan word daar van bure verwag om die brande te blus. Die vraag is by die vergadering gevra of die staat verantwoordelik gehou kan word vir skade aan buurgrond in sulke gevalle.
Dit is ook belangrik dat ploteienaars (Spitskop en Kwaggasvlakte) aansluit by die TFPA en hulle vergewis van die brandwet, sê Renette Lategan, Rampbestuur-koördineerder. Hulle word ook verplig om brandstroke aan te bring, aangesien daar dikwels in hierdie areas vure ontstaan.
Daar is met spyt by die vergadering afskeid geneem van Jaap Barnard, wat vir die afgelope 2 jaar voorsitter was van die TFPA, maar tans besig is om te verhuis na Nelspruit. Philip Nel van Rooiberg is as die nuwe voorsitter aangewys. Hy het jare se ondervinding in die landbousektor as boer, navorser en landbou-ontwikkelaar. Hy het ook in 2001 sy M. Volhoubare Landbou voltooi. Sy kontaknommers is 014 734 1884 of 083 394 0140.