Thabazimbi verloor nog ‘n inwoner

Tannie Alida de Clercq, eienaar van die destydse “Tot-u-Diens” skoenwinkel, wat geliefde bekend gestaan het as Tannie Lida se skoenwinkel, is verlede week oorlede.
Tannie Alida de Clercq, eienaar van die destydse “Tot-u-Diens” skoenwinkel, wat geliefde bekend gestaan het as Tannie Lida se skoenwinkel, is verlede week oorlede.

THABAZIMBI  – Die Bosveld het nog ‘n oud inwoner verloor met die afsterwe van Tannie Alida de Clercq wat na ‘n kort siekbed op Woensdag 7 Oktober 2009 oorlede is.

Die jong Alida Weldon is in 1943 met Theuns de Clercq getroud. Op 5 November 1945 kom sy op die Thabazimbi stasie aan en met die poslorrie ry sy met haar oudste kind tot by die ou Poskantoor (regoor die perseel waar die Departement van Landbou se kantore vandag is in Vanderbijlstraat). Hiervandaar is sy en Theuns te voet oor grondpaaie na Derdelaan 6 toe waar hulle eerste huis op Thabazimbi was.

Uit haar huwelik is vier kinders gebore, by name Maritha, Cecilia, Wessel en Elona. Op 6 April 1975 word sy ‘n weduwee met die afsterwe van haar man en sy gee Maritha aan die dood af op 18 Oktober 2004. Sy word oorleef deur haar drie ander kinders, 10 kleinkinders en 5 agterkleinkinders.

Op 1 Oktober 1960 begin tannie Alida haar eie besigheid “Tot-u-Diens” Skoenwinkel in Tweedelaan. Hierdie besigheid bedryf sy tot haar aftrede op 30 November 1989. Min mense het die naam van die skoenwinkel onthou, maar was eerder alom bekend as Tannie Lida se skoenwinkel. Baie inwoners oud en jonk het haar ondersteun. Dit was dan ook ‘n lekker kuierplekkie vir haar vriendinne en oase vir menige boere as hulle die dorp besoek het met ‘n koppie tee en ‘n beskikbare toilet.

Tannie Lida het by haar dogter Elona gewoon sedert 1981. Op 17 Februarie 2008 het sy haar intrek geneem by die Tambotie Versorgingsoord, nadat Altzheimers se siekte haar onafhanklikheid gekelder het. Hier was sy tot haar dood toe.