General

Nuwe SAVLU Vise-presidente uit die Bosveld!

LEPHALALE – Tharina Rossel is verlede week verkies tot vise-presidente van die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou Unie (SAVLU).
Sy is tydens die SAVLU drie jaarlikse Kongres in Noordwes genader om haarself verkiesbaar te stel as presidente, maar het gevoel dis nie ‘n besluit wat ‘n mens so vinnig moet neem nie. Sy kon egter nie weier toe sy as vise-presidente verkies is nie. Die nuwe SAVLU presidente is Henriette Schoeman van VLU Mpumalanga.

Die hele Limpopo is baie trots op Tharina, vertel mev Marieta Eckard, voorsitter van Ellisras VLU, wat saam met haar die Kongres bygewoon het, en ook voormalige presidente van VLU Noord.

“Die VLU is deel van my daaglikse bestaan, iets waarsonder ek nie wil klaarkom nie,” vertel Tharina Rossel, Presidente van die Vroue Landbou Unie Noord en volkome VLU-vrou.

23 jaar gelede het ‘n vriendin Tharina saamgeneem na haar eerste VLU-vergadering. “Ek het dadelik aangesluit en dit was die begin van my heerlike, verbintenis met Vroue Landbou Unie Noord”.

Tharina was drie jaar Redaktrise van Die Kremetart, die VLU Noord se tydskrif, drie jaar Streekvoorsitter van Bosveldstreek, een van die drie streke van VLU Noord en is nou vir byna 18 maande President van VLU Noord.

Tharina is baie ernstig oor die VLU: “Buiten my godsdiens en my gesin, vorm die VLU die grootste deel van my daaglikse bestaan”. Buiten die feit dat sy weens haar verpligtinge baie besig is, is sy gedurig besig om planne te maak om meer vroue te kan betrek om by die verrykende organisasie in te skakel, en wat gedoen kan word om die lede nog meer te kan bied. “Ek leer elke dag meer van myself en van mense-verhoudings,” vertel sy. 

Tharina het in die laaste ses jaar ook baie betrokke geraak by die Wêreld Bond van Plattelandse Vroue, en het reeds Suidelike Afrika tydens twee wêreld kongresse verteenwoordig.

Haar visie vir die VLU sluit aan by die tema van die SAVLU vir 2010, naamlik “Vroue wêreldwyd: die stem van vandag”.
Tharina is voorwaar ‘n dinamiese vrou en ‘n voorbeeld vir almal wat haar ken, het een VLU-lid vertel. “Sy is vir ons tegelyk ‘n aansporing en ‘n voorbeeld en ons is baie trots op haar!”