Nog steeds geen M-Net
Hennie Pauw
THABAZIMBI – Plaaslike M-Net kykers kon die afgelope week nog steeds nie hul M-Net programme kyk nie, vanweë ‘n probleem met die kragtoevoer na die M-Net-toring.
Verlede week is berig dat kabeldiewe die M-Net-kykers groot ongerief aangedoen het toe kabels van ongeveer 30m, asook ‘n transformator, gesteel is. Die kabels en transformator was verlede week deur tegnici van Kumba vervang en die kragtoevoer is herstel.
Ongelukkig het die elektriese storm van Vrydagnag/Saterdagoggend die kragkabels raakgeslaan, wat weer eens ‘n paar instansies wat van die toring afhanklik is, insluitend M-Net-kykers, sonder die gebruik van dienste gelaat het.
Dit blyk nou dat die 3 fase-kragtoevoer op plekke deur die elektriese storm beïnvloed is. Die volle omvang van die skade is eers teen Woensdag vasgestel. Herstelwerk is hierna deur Kumba-tegnici begin, maar is bemoeilik deur die ontoeganklikheid van die terrein.
Na verwagting sou die laaste herstelwerk teen 13:00 Donderdag voltooi wees.