Health

Wêreldgeestesgesondheidsdag kom na Thabazimbi

THABAZIMBI – Die Wêreldgeestesgesondheidsdag word eerskomende Saterdag, 10 Oktober wêreldwyd gevier.
Volgens statistiek sal 1 uit elke 5 Suid-Afrikaners gebuk gaan onder ’n geestesongesteldheid een of ander tyd deur die loop van hul lewens. 
Geestessiektes soos depressie, angs, bipolêre- & obsessief-kompulsiewe versteuring is dus ’n gesondheidswerklikheid.  Hierdie dag word gebruik om dwarsoor die wêreld gemeenskappe in te lig oor geestesgesondheidaangeleenthede, mites en stigmas daaromtrent uit die weg te ruim en beskikbare dienste bekend te stel.
’n Oggendwerkswinkel oor Emosionele Uitbranding, word vanaf 10:00 – 13:00 in die NG Kerksaal, 10de Laan Thabazimbi aangebied. Die hele gemeenskap van Thabazimbi en omgewing word uitgenooi om na sprekers soos Dr Thinus Benade, Rita du Plessis en Dr Tessa van Wijk te kom luister.
As jy opgebruik en lewensmoeg voel, of iemand in jou gesin of werkplek het wat swaarkry, is dit ‘n waardevolle geleentheid om inligting oor hierdie siektes en oor waar mens hulp en ondersteuning daarmee kan kry, te bekom.
Dié oggendwerkswinkel word aangebied deur SADAG (Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep), Thabazimbi.
Skakel gerus die koördineerder, Rita du Plessis by 082 550 9435 of rig navrae aan Madia by 082 863 6060.