Top-kunstenaars reg vir die KunsteGrot
THABAZIMBI – Met nog net sowat 20 plekke beskikbaar, word daar uitgesien na die optrede van NaviRedd op 24 Oktober in ‘n propvol teater by die KunsteGrot. Indien u dalk nog ‘n kaartjie wil bekom, skakel dadelik.
Mathys Roets kom kuier met nuwe woem op 25 November by die KunsteGrot. Hy is hard aan die werk, energiek en entoesiasties en sy program vir die res van die jaar is propvol. Hier gaan ’n mengelmoes-program aangebied word met van sy mooiste nuwe liedjies en verskeie van die ou gunstelinge. Die kunstenaar met die sensuele, warm stem, soos ryk praliensjokolade, maak elke vertoning spesiaal en hy boet nooit kwaliteit in nie. Sy stem en Matthys Maree, een van die beste musikante in die land, se uitstekende begeleiding, is ’n wenkombinasie en gehore kan hulself regmaak vir ’n betowerende musikale reis
Dié man met die meesleurende stem is veral bekend vir sy besonderse vertolking van musiek van Koos du Plessis en Leonard Cohen, maar met sy reeks Masters of Song, wat verlede jaar verskyn het, het hy ook reg laat geskied aan die immergewilde klanke van Cat Stevens, Neil Diamond en Roger Whittaker.
Mathys se twaalfde CD, In retrospeksie, het pas verskyn. Daarop is gunstelinge soos “Don’t believe in if”, “Droomvrou”, “Dance me to the end of love”, “Daar’s ’n plek”, “Splinterruit”, “Bird on a wire”, “Fluister”, “Sprokie vir ’n stadskind”, “Hallelujah” en “Gebed”. Dié versameling van 22 liedjies som sy omvangryke talent en besonderse styl op. Hy is sinoniem met sinvolle musiek waarna mens lank kan luister, en dat hy reeds besig is met die beplanning van sy volgende album is opwindende nuus. Kom ervaar Mathys eerstehands.
Vanaf 7 November 2009 sal daar op elke eerste Saterdag van die maand ‘n kunsmark vanaf 09:00 tot 15:00 aangebied word. Hieronder sal daar allerhande wonderlike handgemaakte juwele, pragtige skilderye, teëls, piouterwerk, suikerkuns, hout artikels en nog vele meer wees. ‘n Teetuin met die heerlikste verversings en rustige agtergrond musiek sal vir ‘n kyk-en/of- koop- ervaring soos min sorg. Diegene wat ook wil kom uitstal word versoek om die organiseerders onverwyld te kontak.
Vir alle besprekings en navrae, kontak vir Rita by 083 7448559