Swartwitpens veiling te Gravelotte behaal R14.8m
GRAVELOTTE – Die jaarlikse swartwitpens-veiling van die Mopani Wildprodusente het op Saterdag 3 Oktober te Selati Wildhokke, Gravelotte plaasgevind.
Die swartwitpense was almal in die hokke en was in ‘n uitstekende toestand en die veiling is as geheel puik aangebied. Die wild wat aangebied was, het hoofsaaklik bestaan uit 7 – 8 maande speenkalwers, enkele volwasse bulle en koeie en verse van bo 2 jaar. Daar was ook buffels, renosters en Livingstone elande wat op katalogus te koop aangebied was.
Die pryse was as volg:
Vir wild in hokke beloop die swartwitpens-teelgroepe ‘n gemiddelde van R55 000 wat dan ook die hoogste prys vir ‘n paar was. Vyf koeie word teen ‘n gemiddeld van R158 000 verkoop met die hoogste prys van R210 000 vir ‘n swartwitpenskoei. Sewe en veertig swartwitpensversies word teen ‘n gemiddeld van R121 000 verkoop met die hoogste prys van R214 000 vir een versie.
Vir die manlike swartwitpense in hokke, word daar vir een Zambiese swartwitpensbul R140 000 betaal, sewe volwasse bulle word teen ‘n gemiddeld van R54 072 verkoop met die hoogste prys wat R135 000 behaal. Honderd en twintig bulkalwers verkoop teen ‘n gemiddelde prys van R24 130 met die hoogste bod van R46 000 vir een bulkalf. Die totale omset vir wild in hokke beloop R11 001 000.
Vir katalogus wild word dertien Kruger buffelverse verkoop teen ‘n gemiddelde prys van R299 231, met die hoogste bod van R310 000 vir een buffelvers. Tien Livingstone elande verkoop teen ‘n gemiddelde prys van R15 600 terwyl vier wit renoster verse teen ‘n gemiddelde prys van R168 750 beloop, met die hoogste prys van R190 000 vir een wit renoster.
Vir die manlike diere per katalogus het vier Livingstone eland bulkalwers teen ‘n gemiddelde prys van R10 000 verkoop terwyl een swartwitpens bulkalf teen R20 000 verkoop is. Die totale omset vir katalogus wild sluit op R4 781 000.
Hierdie veiling is ter afsluiting van die jaar se wildveilings gehou en spog met ‘n totale omset van R14.782 miljoen.