Pretdraf vir KANSA
THABAZIMBI – Hierdie tyd van die jaar is ideaal vir ‘n hele gesin om op ‘n weeksaand 5 of 10 km kaf te draf (of stap) en sommer terselfdertyd ‘n goeie doel te ondersteun.
Die goeie doel is kankernavorsing en die rasionaal agter die pretloop is die bevordering van ‘n gesonde lewenstyl. Die plaaslike KANSA kantoor beplan vir die tweede agtereenvolgende jaar ‘n aand-pretdraf op Woensdag 28 Oktober van 5 of 10 km.
Belangstellendes moet bymekaarkom vanaf 17:00 Woensdag om in te skryf voor die kantore van Thaba Stereo in Van der Bijlstraat. Die wegspring is om 17:45.
Daar kan vooraf registrasie plaasvind by Deo Volente Beds (tel 014 777 1818) in die Shoprite Sentrum.
Die pretloop is vir alle ouderdomme en daar word pryse toegeken vir verskillende kategorieë. Medaljes word aan alle deelnemers wat die roete voltooi, oorhandig.
Toegang wissel tussen R20 en R40, afhangend van die afstand wat afgelê word en die ouderdom van deelnemers.