Business

Plant nou vir daardie groot pampoen

Dit is nou tyd om die pitte in die grond te kry vir die Goliat van Gat pampoengroeikompetisie. Die plantareas moet nou voorberei word aangesien die pitte teen middel Oktober en vroeg November geplant moet word.
Die Goliat van Gat pampoengroeikompetisie het oor die afgelope 6 jaar geweldig uitgebrei en daar is nou feeste in Pretoria, Stilbaai, Utrecht, Marble Hall, Swartwater (Noordstreek), Henneman en Pietermartizburg. Die sukses van die feeste is ‘n goeie aanduiding van die pret en vreugde wat groeiers ervaar van die dag dat die pampoenpitte geplant word, totdat die ou grote geoes word en deelneem aan die kompetisie.
Die volgende Suid Afrikaanse rekords bestaan:
Silverton 2008 224.7 kg; Stilbaai 202,2 kg; Pietersburg 139.93 en die wêreldrekord staan op 766.12 kg deur ene Mnr Joe Jutras van Long Island. Die meeste mense wat kos in supermarkte koop besef nie hoe moeilik dit is om ‘n eenvoudige pampoen te kweek nie. Die eenvoudigste deel is om die pit te plant. Daarna begin die groot werk. Daar moet daagliks na die pampoene omgesien word. Die ‘resep’ is beskikbaar maar baie ander faktore te veel of te min reën, te warm of te koud speel almal ‘n rol. Meer nog, die plante is ‘n verskriklike versoeking vir ‘n honger koedoe of ‘n ystervark of muis of enige ander dier of mens wat met honger oë na die pragtige plant kyk. Daar word gehoop dat mense wat aan die kompetisie deelneem, die risiko’s sal besef wat boere aangaan om voedselsekerheid vir die bevolking te waarborg.
Pitte is by TLU Noord se Streekkantoor beskikbaar. Wilma kan gekontak word by (015) 297 3749. Die pakkie pitte kos R 50.
Die pampoene wat tydens die verskillende kompetisies ingeweeg word, word aan organisasies geskenk wat dit onder behoeftige mense versprei. In 2008 was daar in Pretoria alleen 3660kg pampoen ingeweeg en versprei.
Die kompetisie kan werklik ‘n heerlike gesinsaksie wees. Almal, veral ook mense wat in ouetehuise bly asook skole word uitgedaag om deel te neem. Die plant en versorging van die ou grotes is ‘n merkwaardige ondervinding en ‘n waardevolle lewensles vir die deelnemers.