Entertainment

Huisvrou van Kuruman beste Boereworsmaker

Die Shoprite Checkers Championship Boereworskompetisiewenner was ‘n huisvrou van Kuruman, Elizabeth Lesley. Elizabeth het nege ander streekswenners uitgeskakel in die finaal wat die afgelope naweek by Sun City se Valley of Waves aangebied is. Op die foto is Elizabeth saam met mnr Whitey Basson, uitvoerende bestuurder van Shoprite Checkers.
Die Shoprite Checkers Championship Boereworskompetisiewenner was ‘n huisvrou van Kuruman, Elizabeth Lesley. Elizabeth het nege ander streekswenners uitgeskakel in die finaal wat die afgelope naweek by Sun City se Valley of Waves aangebied is. Op die foto is Elizabeth saam met mnr Whitey Basson, uitvoerende bestuurder van Shoprite Checkers.

SUN CITY – Die Championship Boerewors-kroon vir 2009 is die afgelope Saterdag tydens die kompetisie se opwindende eindrondte by Sun City se Valley of Waves toegeken aan ‘n huisvrou van die Noord-Kaap. Elizabeth Lesley van Kuruman het met haar unieke resep vir tradisionele boerewors meegeding teen nege ander provinsiale finaliste en weggestap met die gesogte titel as Boereworskampioen sowel as die manjifieke prys van ‘n splinternuwe Toyota Hilux 2.7 Dubbelkajuit Raised Body Raider. Vir Elizabeth is dit ‘n droom wat uiteindelik bewaarheid word nadat sy in beide 2007 en 2008 as Noord-Kaap finalis om die kroon meegeding het.
Tweede plek is verower deur Annetjie Fourie van Brits, en Bennie Nothnagel van Hillcrest in Durban, het die derde plek ingepalm.
Die gewildheid van die Championship Boerewors kompetisie, wat vanjaar vir die sewentiende keer aangebied is, neem steeds toe. Meer as duisend van die land se voorste boereworsmakers het reeds sedert Augustus vanjaar braaitange gekruis in hierdie witwarm stryd – eers in 87 streekrondtes, en daarna in die landwye provinsiale rondtes in September waar die tien beste resepte gekies is.
By die grand finale was dit die uitdagende taak van  die onafhanklike beoordelingspaneel bestaande uit bekende koskenners Martin Kobald, Carmen Niehaus, Peter Veldsman, Reuben Riffel, Dorah Sitole en Arnold Tanzer om een wenner te kies uit die tien finaliste se unieke en uitstaande inskrywings. Inskrywings is eers rou beoordeel, waarna deelnemers moes uithaal en wys wie hul eie-resep boerewors na die beste van hul vermoë op die braai kon voorberei.
Aktrise Brumilda van Rensburg en radio-persoonlikheid Johan Rademan was die aanbieders op die dag en het die skare op die strand vermaak. Huisgenoot Musiekplaas het ook bygedra tot  die opwinding van die dag met vermaak uit die boonste rakke deur uitmuntende Suid-Afrikaanse musiektalent soos Jason Hartman, Broers (Christo, Cobus en Nic Snyman), Cheree Large, Jakkie Louw & Band, Karlien Husselman, Gerhard Steyn, Willem Botha, Zak van Niekerk en Graeme Watkins.
Die ander sewe finaliste wat meegeding het om die titel vir die fantastiese eersteprys was: John Miller, werk by die voertuigonderdele-afdeling van ‘n plaaslike verspreider in Port Elizabeth; Frances Pelser – ‘n tuisteskepper van Kroonstad; Markus Stander – ‘n administratiewe toesighouer by staalwerke in Germiston; Johan Botha – ‘n blokman by ‘n slaghuis in Vereeniging; Kobus Nel – die slaghuisbestuurder by ‘n varsprodukte kleinhandelaar in Louis Trichardt; Victor Lourens – ‘n leerling-winkelbestuurder by Shoprite Nelspruit; en Deon Stassen – ‘n vleismarkbestuurder by Shoprite Beaufort-Wes.
Hierdie eg Suid-Afrikaanse gebeurtenis – die Championship Boereworskompetisie – word jaarliks deur Shoprite en Checkers aangebied om aan boereworsmakers die geleentheid te bied om hul vernuf te toon met die maak van die land se smaaklikste boerewors, en ook om die groep te help om op die voorfront te bly van verbruikers se behoeftes en smake.
Verbruikers sal nie lank hoef te wag om die supermarkgroep se nuwe Championship Boerewors te proe nie. Die kwaliteit produk sal vanaf 14 Oktober in die Vleismarkte van alle Shoprite, Checkers en Checkers Hyper winkels landwyd beskikbaar wees. Die 2009 Championship Boerewors sal die Suid-Afrikaanse Sjefsvereniging se Stempel van Goedkeuring ontvang as versekering dat Suid-Afrika se gewildste boerewors-handelsnaam inderdaad die beste van die heel-beste is.