Het die media jou in die sak?
Beeld, 23 September 2009.
Eet by ‘n sekere restaurantgroep en jou lewe sal opwindend wees. Ry ‘n sekere motor en almal sal jou beny. Die media gee ons daagliks sulke boodskappe. Raak mediageletterd, skryf Alita Vorster van Die Beeld.
Of jy dit nou wil erken of nie, die media het jou al beïnvloed. Dalk het jy ’n sekere motor of selfoon gekoop nadat jy die advertensie gesien het of dalk was dit iets kleins, soos aandete by die Kolonel.
Ons almal word iewers deur ’n slim advertensieveldtog tot aksie oorgehaal. Media is egter nie net advertensies nie. Reklame is maar een klein onderdeel van hierdie reuse-bedryf.
Die media is selfs nie net die radio, TV, koerante, tydskrifte en die internet nie, maar sluit enigiets in wat ’n boodskap uitstuur, selfs reklameborde, boeke, SMS’e en ’n slagspreuk op ’n T-hemp.
Dr. Elsabe Pepler, ’n onafhanklike mediakenner en -konsultant wat haar proefskrif oor mediageletterdheid gedoen het, sê mense besef nie regtig hoe magtig en invloedryk die media is nie. ’n Mens bring ongeveer 40% van die tyd wat jy wakker is in die media se teenwoordigheid deur; daarom moet jy deeglik bewus wees van die impak daarvan op jou lewe.
“Baie van ons opvattings word eintlik deur die media gevorm, en só maak ons valse aannames oor talle kwessies. Ons is dikwels die ‘couch potatoes’ waarteen media-akademici al in die 1940’s gewaarsku het: Ons sit net en laat die media se inhoud oor ons spoel sonder om ooit krities te dink oor wat ons sien, hoor en beleef.”
Dink krities
Maar wat is hierdie mediageletterdheid wat mediakenners soos Pepler bepleit?
Mediageletterdheid is, volgens ’n definisie op die Amerikaanse Sentrum vir Mediageletterdheid se webtuiste by www.medialit.org, die vermoë om al die boodskappe wat ons elke dag bereik te sif en te ontleed. Hierdie boodskappe sluit alles in wat ons inlig, vermaak en motiveer om iets te koop.
Dis verder die vermoë om krities te dink oor alle vorms van die media – van musiekvideo’s en webtuistes tot die strategiese plasing van sekere produkte in rolprente en op televisie. Iemand wat mediageletterd is, vra:
* Wat sien ek daar?
* Wat staan juis nié daar nie?
* Wat skuil agter hierdie mediaboodskap?
* Wat is die geldelike motivering?
* Van wie kom hierdie boodskap?
* Watter waardes word oorgedra?
Opgesom beteken dit: Kyk met sorg na alles, dink krities daaroor, sonder om noodwendig sinies te wees en die media die skuld te gee vir alles wat skeefloop.
Kinders die kwesbaarste
Volgens Pepler het ons in Suid-Afrika beslis ’n agterstand wat mediageletterdheid betref.
“In alle Eerstewêreldlande is mediageletterdheid al ’n volledige skoolvak vir alle grade. Kanada en Brittanje is loshande die voorlopers hiermee. Kanada het selfs sogenaamde burgerburo’s, waar mense wat met die jeug gemoeid is in groot stede se voorstede saamgesels oor die inhoud wat veral op die jeug gerig is.
“Die jeug is die kwesbaarste ontvangersgroep, en baie van hul waardes en beskouings word, saam met die makkergroep se invloed, deur die media gevorm.
In Suid-Afrika kry sal leerlinge byvoorbeeld in ’n taalvak ’n begripstoets uit die koerant kry, sê sy. Dit leer hulle egter nie direk wat die media is, hoe dit werk, waarop dit gerig is en hoe boodskappe saamgestel word nie.
“Ons kinders weet dus nie hoe om hierdie mediaboodskappe krities te beoordeel nie.”
Prof. Maritha Snyman, die besturende direkteur by LAPA-uitgewers en kenner op die gebied van mediageletterdheid, sê dis veel veiliger om ’n kind mediageletterd te maak as om toegang tot sekere inligting te probeer beheer.
“Ouers is dikwels self nie bewus op watter manier die media kinders kan beïnvloed nie,” sê sy.
“Kinders moet bewus gemaak word dat dit nie net gaan oor die boodskap wat die media uitstuur nie, maar ook oor die wyse waarop die media die inhoud inklee en aanbied.”
Daar is al dikwels met kommer gekyk na die manier waarop jong kinders se begrip van ’n gesonde liggaamsbou negatief geraak word deur die supermaer modelle in advertensies en tydskrifte. Dis egter maar een gebied waaraan daar aandag gegee word.
Snyman sê ’n mens moet onthou dat die hele advertensiewese daarop gemik is om by mense behoeftes te skep wat nie eers daar was nie.
“Reklamewese is tot ’n fyn kuns ontwikkel. Wat advertensies doen, is om die ideale lewenstyl met ’n produk te verbind. Die Franse filosoof Baudrillard het gesê die media skep ’n hiper-werklikheid. Daarmee het hy bedoel dit is ’n werklikheid wat nie bestaan nie, maar tog streef almal daarna. Dit bly egter byna onmoontlik om te bereik.
“Kinders word gebombardeer met beelde van mooi huise, blink motors, skoon kombuise en vroue wat in ontwerpersklere badkamers skoonmaak. Hulle glo dan dis hoe die lewe werk. Dít het voorspelbare negatiewe gevolge.”
Wat kan jy doen?
Word mediageletterd en hou op om soos ’n sofapokkel bloot alles as die waarheid op te slurp, sê Snyman en Pepler. Maak jou kinders terselfdertyd bewus om krities oor alle boodskappe te dink.
Doen dit só:
* Wees bewus van die manier waarop advertensies aangebied word.
* Kyk krities na hoe hulle dit regkry om die produk of die droom positief uit te beeld.
* Onthou dat daar inhoud is wat goed is vir jou en jou kind, maar daar is ook inhoud wat skadelik of sleg is.
* Wys jou kind daarop dat die kamera hulle lei om te kyk waarna hulle móét kyk.
* Onthou dat die kamera jok. Met deesdae se digitale manipulasie nog meer as voorheen.
* Alle mediaboodskappe is geskepte werklikhede wat deur ’n enkele persoon of span saamgestel word met een perspektief. Moenie hierdie waarheid as die enigste waarheid aanvaar nie. Daar is ander geldige beskouings ook.
* Kontak Pepler by elsabe.pepler@ gmail.com vir mediageletterdheidsopleiding. Besoek ook www.medialit.org of www.media-awareness.org.